Einde van die jaar is op ons, en saam met dit kom al die jaareind funksies & partytjies.
Hierdie jaar het ’n nuwe aktiwiteit bygekom – Kinderland se jaarlikse konsert. Jean het vroeër die jaar by die skooltjie aangesluit nadat ons te veel gesukkel het met betroubare nannies (verhaal op sy eie…aargghhh). Maar soos hul sê alles gebeur met ’n rede en dit was een van die beste besluite wat ons geneem het om hom by Kinderland in te skryf.
Terug by die eintlike storie – die konsert.
Woensdag, 5 Desember en die groot dag is op ons. Met die dat die skooltjie reg oorkant Laerskool Hugo Rust is, het dit die opsies baie maklik gemaak waar om die konsert te hou.
Marli se ouers en Ruan het deurgekom vir hierdie spesiale event. Eerste aan die beurt was dit die 1 – 2 jariges. Soos die musiek begin was dit net beheerde chaos met kleingoed orals oor die verhoog.
Die gehoor het uitgebars van die lag en aaai die kleingoed het hul lang geoefende stappies “probeer” doen. Tog te oulik!
Jean se klassie was volgende en aai wat ’n trotse oomblik was dit nie toe die knaap saam met sy ander makkers op die verhoog verskuif het nie. Die bulletjie het hom so goed van sy taak gekwyt en ek en Marli was TROTSE ouers.
Net nou die dag het hy op die gras rond gekruip en hier is sy eerste konsert agter die rug.
Welgedaan almal wat betrokke was by die konsert – was ’n groot sukses!