My maat, as jy dink ‘n Currie Cup finaal tussen die steeptruie en die blou knape van die Noorde is stresvol en senutergend dan moet jy by wees as jou en jou verloofde se ouers mekaar die eerste keer ontmoet. Ek kan wragtig nie sien hoe mense meer as een keer deur so storie kan gaan nie, want bliksem ek dink ek het nog steeds onttrekkingssimptome.
OK voor ons verder gaan laat ek gou beide party aan julle voorstel.
Marli se ouers (oom Marthinus & tannie Marietjie) is wraggies bobaas mense en vir moontlike skoonouers, dit is nou as M die dag voor die kansel sal JA sê, kan mens seker nie vir beter vra nie. As ‘n knaap eendag voor my deur kom staan, en ek is bewus van sy Willeklong manewales, en hy wil my enigste dogter vir ‘n aka date neem sal ek net daar en dan van die geleentheid gebruik maak om ons land se nuwe wetgewing op vuurwapens te toets. Maar beide oom Marthinus & tannie Marietjie is oop vir enige voorstelle en as mens ‘n avontuur net reg pitch vir die oom sal die knaap ons nogals join soos ons skydive en Bugaloo uitstappies.
Aan my kant het ons pa Pierre (of Saag soos die ou polisiemanne hom ken) en ma Magriet. As kind kon ek nooit van my ouers se besluite verstaan nie, maar hoe ouer ek raak hoe meer besef ek dat alles wat my ouers in hulle lewe gedoen het was om vir my en my klein sus, Adri, net die beste in die lewe te gee. Ons het nooit gespog met die beste en meeste nie, maar ons het die nodige gehad om ons te bring tot die mense wat ons vandag is. My pa is seker een van die hardste en sterkste mense wat ek op moeder aarde ken en al draai die knaap net anderkant 56 is die krag nogsteeds in die voorarms as hy my in ‘n nekgreep het. ‘n Yster wat vir God, sy familie en taal lewe en as jy aan een van daai 3 gaan raak kan ek jou vandag belowe gaan jy nie die son sien sak nie. My ma mag dalk die kleinste in die spannetjie wees, maar sy bly die generaal en baie vriende het die pakkie dinamiet gevrees as hulle kom kuier, maar as mens haar eers ken besef mens vinnig hoe sag sy werklikwaar is Vir beter ouers kan geen seun vra nie en al stem ek en die groot seun soms verskillend oor seker goedjies respekteer ek hulle met my lewe.
Omrede my ouers in Oos-Londen is sien ek hulle maar net so een maal ‘n jaar en dan is dit meeste van die tyd in Oudtshoorn by my ouma. Dit het gely dat hulle nooit werklik van my vriende ontmoet het nie. My pa bel ons altyd 07h00 Saterdagoggende wakker as ons op ‘n Willeklong trip is so hy het al met meeste van die wetters op die foon gesels en die bulle weet as die foon so vroeg lui is dit die groot seun van die Oos Kaap.
Dus toe my ouers noem dat hulle gaan kom kuier het ek en M besluit ons gaan van die geleentheid gebruik maak om twee vliee met een skoot dood te klap – 1) die ouers ontmoet mekaar, en 2) my pa kan die gesigte agter die stemme ontmoet.
Hoe nader ons aan die dag kom hoe meer begin ek en M stress. Shit gaan die ou mense click, gaan hulle darem van mekaar hou….? En om dit alles op te top is van ons pals ook daar om die hele storie te bekyk. Stress is ‘n relatiewe begrip en ek sou ‘n baksteen opvreet om net die dag agter die rug te kry.
Marli is effens meer gestress as ek, want my ouers is die hele naweek by ons en sy wil net haar beste voetjie voor sit. Hoe meer ek vir haar sê sy moet net haarself wees hoe meer kan ek sien M begin stress.
Nou my ma is een van daai mense wat nie later as 05h00 die oggende kan slaap nie, al is dit naweke en aai met M wat GLAD NIE ‘n oggend mens is nie en nie in die bed wil bly as die gaste wakker is nie was sy op elke oggend voor 06h00. Dink sy het tot 07h00 die oggend sleepwalking gedoen.
Saterdagmiddag breek uiteindelik aan en al die pals kom drips en drabs daar aan en dit is nog net Marli se ouers wat moet opdaag.
“Ding Dong”, skrou die voordeurklokkie die gang af en ek weet dit is nou game time.
Dit is nou of nooit. MIN DAE!! VASBYT Jonker. Dit is die shit wat mens in comic boeke lees. Om dinge net effens kakker te maak is die Stormers besig om goed op hul moer te kry teen die Bulls ,so vrek, is dit dalk ‘n teken wat gaan kom vanaand? Almal groet mekaar en onmiddelik is daar geselsies en lewe in die huis. Na die game skuif die kuiertjie buite toe waar daar lang stories die heelaand vertel was…
So het die ouers geclick? Ek en M kan met trots bekend stel dat die ouers van mekaar hou en ek dink hulle het die aand baie geniet, al was ek en M die heeltyd mal gestress om seker te maak dat daar genoeg aandag aan die 4 gegee word.
Moet ook bysê met pals soos Rev, Parma, Vic, Ruan, Brill en hul beter helftes wat daar was het die aand soos ‘n soetwyntjie geloop – lekker met geen hiccups nie.
Later die aand voor my pa gaan inkruip roep hy my nader: “Ek kan in jou vriende sien dat julle in goeie hande is en altyd sal wees. Vir n ouer is dit baie belangrik om te weet. Lekker slaap ouboet…”
Vir meer kan mens seker nie op een aand vra nie. Ons ouers hou van mekaar en my ouers smaak die ouens moerse saam met wie ek deur die land jaag en paniek saai…
Lees gerus ook:
Nag ou grote…