Vrydagmiddag so duskant 19h00 is ons (Riaan, Elizca, Ronel, Vicky, Paul & ek) in Tigger en reg vir die +/- 400km Calvinia toe.
Calivnia wat in die Noordweste van ons land geleë is, is nie net bekend as die hartjie van die skaapwêreld nie, maar ook vir een van die lekkerste feeste in ons land genaamd die Vleisfees. As Afrikaans, pragtige natuurskoon, stunning mense, lekker skaapvleis en tonne samesyn jou ding is dan is hierdie die plek vir jou. Ons was verlede jaar vir die eerste keer op die fees, so ons het woes uit gesien na hierdie een die jaar.
So net na 23h00 sleep ons ‘n VREK koue Calvinia in. Ja ja ja vir die manne wat daar bly is dit seker niks nie, maar vir ses van ons wat onder tonne komberse en ‘n heater rond jaag was dit een realiteit skok toe ek die eerste keer uit die bakkie klim.
Aangesien ons so laat die Vrydagaand daar aan gekom het, het ons reguit na tannie Joana gegaan vir uitpak en opslaan van TM (ons tent). Het verlede jaar ook by die tannie gekamp en hoekom nie die jaar sommer weer nie?. Na tonne drukke en soene het die tannie besluit dat dit net te nat en koud is om buite te kamp en ons moet maar liewers in die huis in trek. Yeah baby – ek gaan so ‘n offer nie ‘n hel laat verby gaan nie. Ek dink my ouderdom laat my nie meer toe om in sulke koue te slaap nie. Of is dit nou my gewig wat dit nie toelaat nie?
Hantam Hotel – verlede jaar het die plek ons seer gemaak met sy deure wat 24uur oop is. Met die intrap het die voggies begin loop en samesyn was begin bou. Die plekkie het stadig maar seker begin voller raak soos die mense van die fees terrein af gekom het en voor jy kan sê “O Blik**m” was die hotel vol en samesyn was baas klaas.
Met al ons travels ontmoet ons heelwat mense en moet ek herken vergeet ek soms name en gesigte. Met die wete het ek en Vic lekker met rooi gesigte gestaan toe so paar Stellenbosch meisies hello kom sê het en vra of ons hulle van verlede jaar se fees kan onthou. Het maar net kop geskud en gemaak of ons PRESIES weet waarvan hulle praat. Shit, sal hulle name graag hier wou mention, maar weereens het die name my ontglip. Ons het ook vir George daar raakgeloop. Het die man laas by die Portfees in Claitzdorp ontmoet, en het sommer vinnig ‘n drankie of 2 saam met die man ook gedrink.
Daar was gedans en gekuier tot in die vroeë ure en die Hantam Hotel het weereens gewys wie is nou werklik baas en wie is klaas.
Saterdagoggend en daar is so ‘n vris briesie buite wat jou lekker kielie waar jy nie gekielie wil wees nie. Die koppies is dof en die wese maar vaag. Lywe word gestrek en die spannetjie kry sommer gou-gou inspirasie vir die dag. Eerste ding op die skedule is om ‘n plek te kry waar ons die rugby kan kyk. By die hotel kry ons slegte nuus dat hulle te vol is en dat hulle nie meer mense in laat nie. Elizca moes gou ‘n blits inkopie sessie in werk nadat haar 3de Levi jean gek*k het op ‘n WK trip. By die fees was TV’s uitgesit vir die mense, maar op die einde van die dag was toe besluit om die game by die golf klubhuis te gaan kyk.
Ons praat maar nie oor die game nie. Vrek TROTS op ons Groen & Goud bullejies!!
Terug by die fees en die tempo het stadig maar seker begin klim. Die feesterrein was gekleë met tonne stalletjies en na ‘n kort wandeling daardeur het die keel vir so ietsie kouds geskreeu. Calvinia is bekend vir sy skaapvleis en mens travel nie +/- 400km en jy probeer dit nie. Ok van ons het dalk TE VEEL probeer, maar bliksem braaivleis met ‘n koue bier is darem net die ding. Mens soek net so ietsie ouliks aan jou sy en dan kan die aarde maar plat val hier om jou.
Toe ons hoor dat Rooies by die stalle (agter die saal geleë) speel het ons geweet dit is maar sulke tye weer – sakkie-sakkie boeta. Met die intrap het ons weer die Stellenbosch spannetjie raak geloop en saam het ons die rondtes begin doen om die dansbaan. Ons lanklaas so lekker gedans en moet dankie sê aan die Polisiekoffie wat die knieë darem bymekaar gehou het.
Samesyn was baas en sommer ook president en dit was lekker om ou gesigte weer te sien van die vorige jaar se fees. Een ding wat Calvinia so spesiaal maak is die mense. Hier kan jy met ieder en elk gesels en daar is niemand wat jou snaaks uit kyk en beloer asof jy een of ander virus is nie. ‘n Fees vir oud en jonk.
Die body het begin houe vat en ek en Parma moes ‘n breuk vat na ‘n dag se vol gebeure. Die res (Vicky, Riaan, Elizca & Ronel) het nog die wa bly trek en soos hulle aangaan het, sal hulle hom sommer ‘n paar keer die berg oor getrek het. Daar is nog tot laat nag gekuier en gedans, want hierdie spannetjie weet nie waar om te begin en waar om te eindig nie.
Die plan was maklik. Kiep vir so ‘n uurtjie tot 21h00 en dan val ons weer in. Maar toe daai alarm so duskant my kop af gaan en ek daai KOUE briesie voel toe weet ek dat ek nie meer die body het vir hierdie endurance naweke nie. Parma het ook maar net kop geskud en die knaap het gekla van maag kwale.
Sondagoggend en ek ruk van die koue agter in Tigger. Mense dit het nie net buite gevries nie, maar daar was ys aan die binnekant van die canopy se vensters ook. Die liggaam was styf van al die sakkie, maar gelukkig was ek nie alleen nie. Die res het ook houe gevat en mens kon sien dit was ‘n grote vir die ouens en meisies wat nog agter gebly het.
Soene en drukke was weer wyd en suid uitgedeel en daar was totsiens gesê aan tannie Joana en haar gesin. Met Tigger wat se pens vol, het ons die laaste +/- 400km terug huis toe aangepak.
Groot dankie aan die mense van Calvinia vir ‘n kick-ass fees en al was dit effe koud het die samesyn en vriendelike mense darem gehelp dat ek nie my tone af vries nie. Vir al die mense wat ons daar ontmoet het – wel ons hoop ons sien julle volgende jaar weer daar.
Welgedaan Calvinia. Om so bietjie meer oor die fees te lees gaan besoek gerus hulle website by <a href="http://www.vleisfees.co.za" target=’_blank’ class=’commentLink’>www.vleisfees.co.za</a> en maak ‘n plan om na al die fotos te kyk. Ons het die jaar skoon vergeet van die kiekie neem goed en het maar net hier en daar ietsie geneem. So groot verskoning vir die min fotos julle.