Scroll Top
19th Ave New York, NY 95822, USA

Moorreesburg skou

Wat is erger as om saam met ʼn Aussie rugby te kyk? Probeer vir hom verduidelik hoekom jy na ʼn landbou skou toe gaan in die Swartland. Dit is net so goed jy praat met ʼn baksteen.

Van al die landbou skoue wat ek al oor die laaste 4 jaar bygewoon het was, en sal, die Swartland skou by Moorreesburg altyd die een voor in die koor wees.

Die skou raak nie net beter elke jaar nie, maar die vriende wat mens oor die jare daar ontmoet het kom keer op keer terug. Twee wat hulle hande die hoogste opsteek is Jaco en sy skoonpa, Henk, wat diens by die bar onder die paviljoen doen. Beide is polisiemanne en “vattiekakie” is hulle tweede naam.

Elke jaar kom al die Klonge eerste by Jaco & Henk se bar bymekaar en dan is dit gewoonlik ʼn helse stryd om daar weg te beweeg. De La Rey word so hard as moontlik oor die radio geblaas en wit en bruin sing saam uit volle bors.

Ek en ou Vic het al die trippie vantevore saam gedoen en diè jaar het ons geweet wat vir ons wag. M was nog nooit by ʼn landbou skou nie en toe sy die harde knape by Jaco & Henk se bar laat Vrydagmiddag gesien het, was sy maar aan die effe senuweeagtige kant. Hier moet jy maar net jou man staan en nie skrik as so paar groot knape jou om die nek gryp om ʼn liedjie saam met hulle te sing nie.

Vrydagaand is altyd die grote en hierdie jaar het nie verskil nie. Het Nic Stevens nie lank gevat om almal op die dansbaan te kry nie en mens moet weet as Vic ook begin dans, dan weet jy dinge raak lekker. Hoe later hoe kwater en voor ek my kon kry besluit ek en M om maar die slaap ding te doen. Met geen verblyf nie word daar besluit om sommer agter in die bakkie, wat op die skou gronde staan, te slaap.

Volgende oggend vroeg kry ek ʼn ring van Vic wat wil weet waar ons is. Maak die canopy deur oop en daar is niemand om ons nie. Net twee verlate voertuie oorkant ons. Vic se wit Toyota kom stadig agter die twee voertuie uit en kom parkeer langs ons. Die knaap lyk sleg en mens sal glo hy het buite geslaap…whahaha…as ek maar net geweet het. Met geen seiltjie agter op die bak nie het die knaap besluit om ʼn tydelike basis langs sy bakkie in te neem met sy hiking matras en ʼn paar warm komberse. En met dit moet ons ‘n nasie bou…

Die vorige aand was rof en mens kon dit ʼn myl vêr op ons gesigte gesien het. Ons gaan nie nog ʼn dag maak nie. Die ouens gaan vir ons dood kuier op hierdie stuk aarde…

Ontbyt word die liggame ingejaag voor daar besluit word om bietjie te gaan kyk wat die groot bohaai oor Misverstand dam (tussen Moorreesburg en Piketberg) is. Daarna gou ʼn koffietjie by Koringberg gaan drink voor ons die lang pad terug Somerset Wes toe aangepak het.

Moorreesburg en sy mense bly maar net ʼn lekker gesellige plek en jy het nog nie ʼn skou bygewoon as jy nog nie die Swartland skou bygewoon het nie.

Lekker ene bulle. Sien weer volgende jaar.

Leave a comment