Scroll Top
19th Ave New York, NY 95822, USA

Hier vrek ons wragtig vandag!

Die avontuurTJIE is al iets van die verlede en al die swaarkry, pyne en seerplekke is al vergete.

Soos enige k*k idee het hierdie een ook sy ontstaan gekry om ‘n vuur tussen vrinne met ‘n paar koue brannes klaar in die gat.

Hoekom, waarom ons in die middel van somer ‘n stuk grond pad te voet wil aandurf slaan my nog steeds te bowe, veral as hierdie genadelose Karoo grond pad / pas 84km is.

As ek voor my eie spieël staan is ek die beste ding naas wit brood en melk, maar moet nie laat hierdie dag dromery jou laat dink ons is atleties aangepas vir hierdie tiepe k*k idees nie.

Die probleem is ons verstand dink ons kan die tiepe goed doen, maar die liggaam…eish, in party ouens se geval het die fisiese gedeelte lankal hom as mens verlaat.

Maar ja as mens alles moet opweeg en meet sal jy wragtig elke naweek by die huis op jou gat sit en jou duim lam oefen op daai remote.

Vrydagaand, 22h00 klim 9 van ons by die Vanwyksdorp bord so paar km voor Ladismith van die bakkies af. Toe ons verby Ronnies Sex Shop gesleep het, was al die jokes op die bakkie klaar en almal het geweet dit is nou sulke tyd.

Sakke is na gegaan, vrouens en meisies soen ons hopelik nie vir die laaste keer goodbye nie (hulle is op pad Warmwaterberg waar hulle die naweek lekker gaan ontspan) en daar pak ons die donker met ’n paar kopligte aan.

Die wêreld is donder en die maan het maar besluit hy kan nie hierdie sirkus aanskou nie en het sy lê gaan kry. Soutie en Boerbok vat die pas voor en enige iets vêrder as 50m en mens sien hulle nie. Die twee groepe bly in kontak met twee riging radio’s en soos dit daar aan gegaan het, kan die weermag maar kom radio lingo leer by ons.

“Grrrr Bravo 1 dit is Bravo 2 – het ’n bakkie julle nog nie dood gery nie?”

”Grrrr Bravo 2 dit is Bravo 1 – ek dink nie so nie, ek stap nog”

Damn, ons bly maar hoop dat iets of iemand hulle trap.

20 km en ons is knie diep in die k*k, darem nie letterlik nie. Soutie is oortuig dat ’n verdomde slang agter hom is toe ons stop vir water en toe iemand ’n klip skuins agter hom gooi het ek gedog daai knaap het ’n 3de taal net daar en dan geleer.

25 km, 03h00 Saterdagoggend en genoeg is genoeg vir die eerste stress. Almal is gat lam en die wonder hoekom ons verdomp op hierdie pad is is lankal die agterdeur uit – dit is nou net hoe de hel maak ons klaar wat op almal se gedagtes is. Gras is nêrens te siene nie en om eerlik te wees almal wil nou net van hulle voete kom. Elk kry sommer ’n lê plek langs die pad en om net seker te maak daar is nie ’n gesukkel met slaap nie, ruk ou Soutman ’n bottel soetes uit en met ietsie warm in die keel is die eerste gedeelte iets van die verlede.

05h30 Saterdagoggend en ons is weer op pad. Die 5 km Vanwyksdorp het relatief ok gegaan, tot Boerbok laat weet het sy voete begin nou groot probleme veroorsaak. Hy sal kontak maak met die dames vir die bakkie wag en sal dan ons bystand voertuig wees vir die res van die trip. Dit sou ons lewensredder later gewees het, maar later daaroor.

Paar km later en ons verloor Marnus ook met sy non-hiking tekkies. Met Andries wat nou al getape is soos ’n Dispatch rugby speler besluit hy om sy tekkies met die van Marnus te ruil en met die skuif kry die knaap ’n tweede asem en sleep vir alle hel om vir Parma & Ricky in te haal wat so paar km voor die res (ek, Vic, Soutie & oom Kobus) is.

By die reservaat verander die roete – op en af en verdomp op en af. Die son is nou al op sy ergste en alles staan stil. Die wêreld is droog en as ’n voertuig verby jou jaag hang die verdomde stof net. Dit trek jou keel in en jou water is nou al lou warm. Ek is verby ‘zombie mode’ en dit is nie meer ek wat stap nie. My bene beweeg net van self en elke tree wat ek gee is verby seer. Pad stap en hike op die berg is heeltemal anders. Op die pad slaan jou hele voet kontak met die oppervlak, waar as jy in die berge is, is jy heeltyd oor klippe en voorwerpe so gedeeltes van jou voete kry kontak heeltyd.

’n Boom is daar nêrens te siene nie en water…die Karoo was en is nog steeds woes droog so al die damme was leeg. Op +/- 45 km besluit ek, Soutie & oom Kobus genoeg is nou genoeg en join vir Boerbok en Marnus op die bakkie. Vic reken hy is nog reg om vir ’n paar km te sleep en hy sou ons later, 50 km, ook op die bakkie gejoin het.

So paar km nadat ons die bakkie span gejoin het kry ons vir Ricky langs die pad, sonder water en die knaap is woes negatief en toe hy die bakkie sien was dit soos ’n engel van bo wat na hom gestuur is.

Andries sou ons later langs die pad kry in ’n slegte toestand. Sy voete was stukkend gestap en die hitte het hom lelik seer gemaak. Met ’n gesukkel het ons hom in die bakkie gekry.

Ok nou is dit net Parma…waar is die bliksempie? Boerbok besluit dit is nou tyd dat ons uit hierdie son kom en druk daai Isuzu van hom in 3rde en laat ons sy lelike kant wys teen die pas op.

Parma se mind is nog reg, maar mens kan sien hy sukkel hard met sy voete hier op 55 km. Met Andries wat nie goed gelyk het nie moet ons hom so gou moontlik in die koelte kry en Parma het besluit om die spannetjie op die bakkie vol te maak.

By die Bosvarkie (Mac se boskroeg) te Calitzdorp word daar skoene uit geskop en almal aanskou mekaar se blase. Die quad bikes ouens wie ons in die pas verby gegaan het join ons en toe hulle eers hoor wat ons aangepak het, het hulle net koppe geskud en oor en oor dieselfde vraag gevra…waarom. As hulle maar net geweet het hoeveel keer ek myself daai selfde vraag gevra het die laaste 2 dae.

So in opsomming was ons poging om die 84 km aan te pak ’n helse mislukking, maar wel ’n ondervinding wat ek en die ander dom wetters vir geen geld sal verruil nie.

Grootste fout wat ons wel gedoen het, was om die knaap in die Somer aan te pak en ook met ligte stapskoene in plaas van ons normale hiking boots, want ons het gereken hoe ligter hoe beter…GROOT fout.

Wel die trippie is iets van die verlede en daar word klaar aan die volgende ene gedink.

Leave a comment