Scroll Top
19th Ave New York, NY 95822, USA

Genadendal hike

Ek het lelik 2de gekom toe ek die roete 7 jaar gelede aangepak het….as ek terugdink kon ek selfs laaste gekom het… Nou daar is verskeie redes hiervoor en ek kan jou vir ure besig hou, maar die kort van die lang storie is ons het die Vrydagaand voor die hike vas gehak by die Poskantoor (kuierplek in Greyton), en die kuiertjie het bietjie laat geraak. Daai Saterdag en Sondag was my langste 2 dae in my lewe en elke tree op daai berg het ek belowe ek sal NOOIT ooit weer die hike doen nie. Meer oor daai eerste hike hier.

So toe my vrou noem hul wil die roete aanpak vir voorbereiding vir hul Kilimanjaro avontuur, einde Junie, het ek geweet dit is ’n k@k idee, ek ek smaak k@k idees glad nie. Ek het met verskeie moontlike redes vorendag gekom hoekom ek nie kan gaan nie, maar vroulief het hul almal af geskiet. Die eindresultaat is ek gaan weer hierdie verdomde hike aanpak.

Ons spannetjie het bestaan uit Marli, Marina, Lizanne, Ruan, Soutie en natuurlik ek..

Saterdagoggend was almal vroeg uit die vere. Het geleer uit laas se foute en die vorige aand sommer vroeg die bed geslaan. Laaste verstellings word aan die sakke gemaak en die eerste kiekie word aan die voet van die berg geneem by die offisiële Genadendal bordjie.

Die mis het laag oor die sendings dorpie gelê en het die eerste gedeelte van die klim eintlik vergemaklik. Longe en bene het gou gewoond geraak aan die ritme. Soutie het die spannetjie gelei, gevolg deur die girls en dan Ruan, Paul en ek agter.

Ons het goed gestap en het Wonderklippe nog vroegoggend gehaal. Soos laas is daar geen tekens van water op die roete nie, maar gelukkig het almal genoeg vloeistof saamgedra.

Kort voor lank het ons die top van die berg bereik. Die wind het begin kop uitsteek, maar darem nie so erg dat mens hoef huis toe te skryf nie daaroor nie.

Van die top kan jy die De Hoek plaas sien waar ons gaan oornag en alhoewel die einde insig is, is die af ’n wetter op die tone en knieë.

Aan die voet van die berg volg jy ’n jeep track tot by die plaashuis waar die eienaar jou ontmoet en jou dan neem na die oornag hut. Die geboutjie is maar verwaarloos, maar daar is darem warm water en toilets, so mens kan seker nie vir meer vra nie.

Na ‘n lang dag in die berge (Video)

Die aand het almal lekker om die vuur gekuier met ’n soete in die hand. Ruan het ons verras met sy iPod, en hier in die middel van êrens/nêrens kon ons die Stormers vs. Bulls rugby wedstryd luister op RSG. Go STORMERS!

Sondagoggend is ons vroeg in die pad. Ons wil hierdie berg uit voor die son ons van agter gaan beet kry. Jy volg ’n jeep track al langs die voet van die berg totdat dit na regs draai….al wat jy kan sien is hierdie ma-helse berg en daar is net een pad en dit is daaroor.

Die klim is hard en aanhoudend en dit voel soms of daar nie einde nie….Aan die top van die berg het die roete effens onduidelik geraak, maar Soutie se skerp oë het ons maklik daardeur gelei.

Uiteindelik bo…wat ’n verligting. Ergste is darem nou agter ons, of so het ek gedink. Maar toe ons die ander kant begin afsak Genadendal toe het die vorige dag se eina tone begin praat met my in tale wat ek nie hier kan noem nie.

Die afgaan is skerp en glad – as jy nie hier gaan kophou nie, gaan jy maklik jou gat sien en op ’n ander manier onder kom.

Jy sien die dorpie heeltyd as jy oor die berg is en met die in jou versuur het die 2de dag nogals vinnig verbygegaan. Die roete sluit later by ’n jeep track aan en die neem jou direk in die dorp in.

Die tone was moer seer, maar verder was daar nie klagtes nie.

By die karre was daar blad geskud en toe is dit weer terug na elk se huis/familie toe.

Leave a comment