Scroll Top
19th Ave New York, NY 95822, USA

Cederberge se Maltese kruis hike

Die week was lank en die weer verby mislik. Al wat ek wil doen is om in die berge te kom en hierdie liggaam se reset knoppie druk.

Die natuur het altyd hierdie vermoë om jou te laat vergeet van jou daaglikse stres / probleme en as dit nie die situasie gaan verhelder nie sal die huidige toestand waarin ek my liggaam vind (verby onfiks) verseker dat ek aan niks anders dink as om net die dag te oorleef nie.

Kry maar enige kaart oor die Cederberge en almal sal pronk met een spesifieke foto, en dit is een van die Maltese kruis (‘n indrukwekkende reguit stuk klip wat lyk of dit spesiaal tussen iets en nêrens geplaas is).

Vrydag laat middag skiet 4 van ons (Vic, Marnus, Ricky en ek) deur Rawsonville toe om die res van die span, Sieb en Stefe, te kry. Van hier gaan ons deur Ceres, oor die pas en dan op die +/- 70km grondpad tot by Kromrivier waar ons die aand gaan kamp.

Die bietjie sneeu wat nog op die berge was het duidelik sy merk gemaak toe ons so 22h30 die aand by Kromrivier aankom en die eerste taak was om seker te maak daai vuur loop soos ‘n jet. Die res van die aand was maar rustig en meeste van die geselsies het maar gegaan oor wat vir ons die volgende dag wag in die berg.

Saterdagoggend en die ys lê lekker dik op die tente. Daar is geen teken van reën of wolke nie en alhoewel die son lekker skyn is daar ‘n vrek koue luggie. ‘n Vinnige koffie word afgejaag voor ons alles oppak en deurskiet Dwarsrivier toe.

By Dwarsrivier draai ons links af by die sterrewag, deur die hek en dan met ‘n jeep track tot by die parkeerplek.

Nou as ons die dametjie by die info kantoor reg verstaan het is dit ‘n baie rustige, eenvoudige stappie tot by die kruis…whahaha…ek moet sê, so uur in die stap toe begin ek wonder of sy al ooit die roete self gestap het, want ons gaan dan die heeltyd op en op en op…

Die longe blaas en Sieb praat van nooit weer sigarette sien nie. Maggies, het ons dan nou so sleg geraak is al waaraan ek dink?

Vir een onverklaarbare rede (weet nie hoekom dit so gereeld met ons gebeur nie) neem ons ERENS ‘n verkeerde draai en moet ons eers ‘n gedeelte van die berg vinnig platdraf (whahaha) om die oorspronklike roete te kry.

Ons kom net so na 13h00 bo by die voet van Sneeuberg (ja daar was so bietjie sneeu, maar niks erg nie) en WOW, wat ‘n gesig toe ons die Maltese kruis die eerste keer sien. Moet sê die grootte van die knaap het my nogals verras en dat die ding nog nie omgewaai het nie, gaan my verstand te bowe.

Elke man het ‘n soete vir die koue gebring (dit is nou behalwe vir “ek is meneer” Stefe) en die eerste een word in saligheid geniet onder die kruis voor ons ons TB (tydelike basis) vir die aand opslaan.

Wat vir ons die aand wag weet ons nie, so die tenttoue word ordentlik vasgemaak. Die middagsonnetjie probeer sy bes om die koue weg te hou, maar dit help wraggies nie. Al wat dalk kan help is nog ‘n soetetjie…net om seker te maak ons vries darem nie van binne nie!

Net voor die sonnetjie totsiens sê slaan ou Vic vir ons ‘n bobaas aandete aanmekaar nes hy kan. Ek moet sê die knaap kan dalk een van die dae sy eie bosresepteboek aanmekaarslaan.

6 knape, maar net 5 bottels soetes…as “ek is meneer” Stefe net syne kon saamgedra het, sou die koue darem nie so erg gewees het nie. ‘n Laaste kaartgame word ingewerk voor die slaapsakke nader getrek word.

Nie seker wat Vic in daai kos gesit het nie, maar wraggies die winde het geloop en as Marnus later die aand nie gestop het nie sou ek hom persoonlike buite toe moes sleep.

Sondagoggend en almal is maar vroeg uit die vere. Daar is weer geen tekens van wolke of slegte weer nie. Die roete terug is 99% afdraand so dinge het baie vinniger gegaan as die vorige dag.

Die bakkie kon nie gouer kom nie en al waaraan almal kon dink is die burger wat vir ons by Ceres se Spur wag.

As jy hou van die natuur en jy soek ‘n lekker naweek roete om deur te draf, kan jy definitief ‘n punt daarvan maak om die Maltese kruis te besoek. Dit is die moeite werd!

Leave a comment