Vrydagaand net so voor 12h00 sleep Tigger Algeria in. Parma het al vroeër die middag met die res (Liandra, Marilize, Chantel & Ruan) daar aan gekom so TB (die WK se tent wat orals travel) het al klaar gestaan en om dinge net nog meer aangenaam te maak het Parma ook sommer die vuurtjie aan die go gehad. Maggies wil vir my voorkom of al daai klappe wel die ding gedoen het. Ou Vicky (wag, die het mos nou ‘n nuwe bynaam na die trip en dit is Dapper-braaf-leeuvegtend-kannidoodkrynie-sexy-springinyswater-dravirHenry. (Dit is hartseer om te sien hoe siek my pal raak deesdae.) het so bok (sie) rooi wyn daar uit gevoeter en die joligheid het begin. Met Parma wat in beheer was van die vleis moes ons maar heeltyd dophou dat die brak nie alles vir Danie (sy maag) gee nie. Die aandjie was maar rustig gevat en net so duskant 24h00 het die spulletjie stadig maar seker die slaap ding aangepak. Môre is ‘n grote wat vir ons wag.
Saterdagoggend en Vicky (oeps ek bedoel Dapper-braaf-leeuvegtend-kannidoodkrynie-sexy-springinyswater-dravirHenry) is eerste wakker. No way in hell kan dit moontlik wees nie. Die oggend was vrek chilly, maar Parma het kenmerkend met sy kortbroek, t-shirt en kaalvoet rond geloop. Wat de hel voer hulle daai mense in Piketberg het ek al baie keer gewonder as ek so na Parma kyk. Liandra (Vicky se niggie) is wel die kleinste van die hele span, maar die het ‘n sak daar uit gesleep wat swaarder as Parma s’n was wat vol hamburgers was. Na so 44 hempies, 58 stelle onderklere & ‘n warmwater bottel wat sy nie nodig gaan hê nie was die sak heelwat ligter.
Waterbottels was vol, vaseline was aangesmeer en ons was reg vir die Cederberge. Die beplande roete was om verby die bekende waterval te gaan en dan by die Crystal pool hut oor te slaap. Die gedeelte tot by die waterval is op en op en op en op en op…(ek kan vir lank so aangaan) en toe ons dit uiteindelik bereik het was al daai zig-zags die moeite werd. Sy (die waterval nou) was huge en pragtig. Het sommer van die geleentheid gebruik gemaak om die suiker levels op te jaag en toe is dit weer in die pad.
Uiteindlik op die platoo gekom is daar besluit dat ons maar moet stop vir middagete, want Parma kon net nie meer sonder ‘n hamburger nie. Die res van die roete vat jou deur van die mooiste gedeeltes van die Cederberge en dit is iets wat jy nie aan iemand kan beskryf as jy nie al self daar was nie. Water was woes volop en mens kon sien die area het goeie reën gehad. Nuwe blomme het oorals uit geskiet en die berge het stunning gelyk, net ‘n jammer dat Vicky & Parma meeste van die arme goed plat getrap het.
Dit was my eerste hike saam met Ronel, Liandra, Marilize, Chantel & Ruan en ek was net weer daarvan bewus gemaak dat hike nie net vir manne gemaak is nie. Dit was nou wel Ronel se eerste hike, maar sy moes ou arme Parma die heeltyd moed in praat omdat hy bly suffer het….hehehehe. Nee jokes, Parma mag maar stap en mens kan sien hy het al menigte male van girls se huise weg gehol. Daar is nie van rus as hy lead vat nie en die seun stop nie vir ‘n bultjie nie. Dit het nie ou Ronel af geskrik nie en die was op sy hakke soos n tor op n stukkie k*k is. Liandra & Marilize het spesiaal van Pretoria af gevlieg om die hike saam met ons te kom doen en maggies manne die Pretoria girls bly maar net ‘n gesellige klompie mense. Arme Marilize se kniëe het begin probleme gee en al was elke tree seerder as die hel het sy nooit gekla nie en as jy vra of alles ok was het jy net ‘n smile en ‘n thumbs-up gekry. Nie soos Vicky wat gewoonlik in snot en trane uit bars nie. Gelukkig het hy nie op die trip gehuil nie. (Daai setpil wat hy elke oggend neem doen die ding lyk dit vir my.)
Teen laat middag het ons NOG nie ons hut gekry nie en die son het vinnig sy gat begin sien. Na ure se kaart studies het ons besef dat die hut PRESIES hier moet wees waar ons staan. Ons was omsingel deur berge en daar was GEEN hut nie. Dapper-braaf-leeuvegtend-kannidoodkrynie-sexy-springinyswater-dravirHenry Vicky het toe gou ‘n reccy gedoen en nadat hy ‘n mini Everest uit en af geklim het het hy die goeie/KAK nuus gebreek dat die hut net daar bo op die koppie is. Genadendal hike se memories het stadig maar seker sy koppie begin uit steek toe ons weer in daai legendariese zig-zag paaitjies in beweeg. Op en op en op en op en op en…voila en hier is ons hut. Nou nie iets uit ‘n sprokies verhaal nie, maar iets wat gaan help teen die koue wat sy koppie al klaar begin uit steek het.
Skoene was uit geskop en die dag se gebeure was die onderwerp van alle gesprekke. Later die aand het elk sy wysheid kom ten toon stel en gewys hoe min ons werklik van die sterre af weet. Met my oë wat so swak is het ek dit maar vir die kinders gelos om sterre sterre te speel. Vic het so ‘n bottel soet goed uit geruk en Ronel het begin gesellig verkeer met haar Vodka. Aandete was maar soos altyd deur ons Vic man aangevoer en die bulletjie is besig om n ware hiker chef te raak.
Met net strooi op die vloer het almal maar sy gaaitjie reg gekry en die slaap ding is probeer. Ek en Vicky het op die punte geslaap en met Parma aan my een kant en ‘n bleddie koue muur aan die ander kant het ek amper die aand geVREK van die koue.
Sondagoggend was ons vroeg in die pad. Die plan was om dalk om Sneeukop te gaan en dan weer aan te sluit by gister se pad. Maar na die tawwe klim na Sneeukop is daar maar besluit om die roete voor Sneeukop aan te pak en dan dan links berg af te gaan. So ‘n uur na middagete het ons by Saterdag se pad aangesluit en dinge het darem so bietjie meer bekend begin lyk. Marilize se knieë het by hierdie tyd glad nie meer saam gespeel nie en sy het woeste houe begin vat. Parma en Vicky het so ‘n paar keer voor uit gegaan, sakke neer gesit en weer terug gekom om haar sak te vat. Wonder hoekom het die knape nooit my sak kom haal nie? Uhmmm…sal so bietjie moet inkyk daarna.
Weereens het die natuur net sy mooiste kant vir ons gewys en ek het net weer besef hoe klein die mens werklikwaar is. (ok nie dalk alle mense nie want daar is ouens soos Parma en Heinrich wat maar helse pense het). Met Marilize wat se knieë nie wil saam speel nie het ons besluit dat ek, Parma en Ronel solank gaan vooruit sleep en dinge by Algeria solank reg kry sodat as die laaste ouens in kom dat ons net kan ry, Nou die seun hou NIKS van opdraendes nie en ek vreet n afdraende soos wat Parma in ‘n burger kan inlê, maar daai laaste afdraende voor jy Algeria kry het my maar lelik eina gemaak. Die voete en knieë het houe gevat en die bleddie zig-zags wou net nie stop nie. So net na 17h00 het ons drie by die tent aangekom en onmiddelik is daar begin om weg te pak.
Net na 18h00 het Liandra, Chantel & Ruan hulle verskyning gemaak. Die son het nou al ander kant die berg gesak en dit het begin donker raak. Waar is Vic en Marilize? Ek hoop nou nie die knaap het nou muisneste in sy gedagtes nie. 18h30 en hier kom die twee in gehoppel. Arme Marilize was in helse pyn, maar sy het klaar gemaak en dit is wat tel. Gelukwense het die rondtes gedoen en ALMAL het saam gestem dat ek die stapper van die naweek was – los hande…..yeah RIGHT!!!!
Was my eerste keer in die Cederberge en moet sê wraggies nie my laaste keer nie. Vir almal wat dit moontlik gemaak het wil ek net baie dankie sê. Vir Liandra & Marilize wat spesiaal van Pretoria af gevlieg het vir die hike wil ons net sê dat ons hoop julle het darem nie te groot geskrik vir die Willeklonge nie en ons hoop om julle gou weer te sien. Chantel & Ruan julle bly hier in die Kaap so ons sal julle defnitief weer in die hande kry. Vir die res van die Willeklonge (Ronel, Vicky & Parma) wil ek net….ag hel ek wil niks vir julle brakke sê nie.
Bulletjies dit was great so wanneer is die volgende een? Ag komaan Vic reel nog so enetjie daar vir ons….
O, en al het Marilize baie eina gekry op die hike het sy wel die comment van die naweek gelewer. Toe ons die Saterdagaand by die hut kom het ek agter gekom sy het ‘n tattoo op haar lae rug. Net daar waar jou broekie begin. Toe ek haar vra en die, was haar reply:
“Die ouetjies in Pretoria gaan mos nie meer army toe nie so nou moet ons girls maar aanwysings op hê sodat hulle weet wat om te doen…hehehehe”
Arrie warrie maters