Nooit weer sal ek 2 feeste agtermekaar bywoon nie. As ek elke keer voel soos ek nou voel, dan woon ek nie eers weer ‘n enkele fees in die land by nie. Dit voel of ek nog steeds op ‘n army vasbyt is – ag nee boys!
Donderdagmiddag na werk skiet daar mos ‘n vol BMW (Colin, Ron, Willem, Hugo & Henry) Piketberg skou toe. Ja, my mensies, dit was ‘n skou en nie ‘n fees nie. Ek was mooi verduidelik dat daar ‘n moerse verskil is tussen ‘n skou en ‘n fees. Dit is net ‘n jammerte hulle het dit 02h00 in die oggend probeer verduidelik. Wie de donder dink nog daai tyd van die aand/oggend?
Nee wat, ons 5 het mos nou gedink ons is tiere deur te dink dat geen ou fesie ons kan seermaak nie. Maar ek dink ons het woes ons agterstewes gesien. Donderdag na werk het ons deur Piketberg geskiet met ‘n groot lus vir woes gaan. Na ‘n eina kertsie by die garage het ons vir Inus by die fees ontmoet. Nou as julle so bietjie rondsoek op die site sal julle so paar parties sien waar die klein stoutgat al by was. ‘n Ware Piketbergman wat die voggies so vasvat dat selfs die voggies bangraak.
Soos ons die saal ingekom het, het ons ‘n vurk gekry – links gaan jy bar toe, en regs saal toe, waar die dans was. Nou laat ek net gou ietsie mooi verduidelik sodat ons nou nie enige misverstandjies het nie. Daar is maar min van die Willeklong manne wat die skoffel ding reg kan doen. Ons probeer hard, maar ek dink ons beseer onsself meer in die proses as enige iets anders. Maar as die voggies eers deur gesyfer het na die bene dan kan niemand en niks ons stop nie. Hoe kan ‘n nugter stadsjapie nou skoffel? Die besluit was maklik – gaan LINKS moer!!
Die bar was vol en die mense moer vriendelik. Jy kon duidelik sien dat dit ‘n plattelandse gemeenskap is, want daar was maar min sprake van jongmense – maar dit het die boys nie gestop om vir Volk, Vaderland, Springbokspan, single girls en hulle ma’s te kuier nie. Hoe kan ‘n mens nou NEE sê vir db brandewyn & coke vir net R10. Nee, hel, dit is ‘n sonde. Dit het nie lank gevat voor die boys se ware persoonlikhede uitgekom het nie. Ek dink ou Hugo het met elke liewe peroon in daai saal gesels, en die scary ding is, ek dink hy het 80% van hulle eintlik geken. As Colin se ogies op so ‘n skreefie trek, dan moet jy weet die man begin nou hard praat met die voggies. En as hy met daai moerse stout smile – wat skuldig van ‘n afstand af lyk – te voorskyn kom, dan weet jy die voggies praat net so hard terug met hom. Willem (of soos hy later die naweek bekend gestaan het, Ou Dronk Willem) het gekuier asof dit die laaste kuier van sy lewe gaan wees. Daar was net nie einde nie. Ron en Henry het net probeer bybly, maar dit het ook nie lank gehou nie.
Ek weet nie hoe lank ons daar in bar gekuier het nie, maar toe ek weer sien, toe dans ek met so oulike dingetjie. Tipies het ek weer NIE ‘n nommer gevra nie, want ek wil mos liewer saam met my dronk pals kuier. Nie dat ek eintlik kan praat nie, maar dit is nou al die hoeveelste keer dat die kak my tref. Liewe donder, moet ek ‘n nota op my arm skryf wat sê: “Henry, as sy oulik is en sy dink darem nie dat jy ‘n poepol is nie, vra haar nommer of iets.” Toe ek nou net lekker begin skuif het oor daai saal (of ek het so gedink) roep ou Hugo my en sê ek moet saamstap. By die kar aangekom sien ek 2 van die helde (Ron & Colin) het dit nie gemaak nie. Hulle was verby stukkend gewees, en ek dink geen boereraat sou hulle kon red nie.
Hoe ek van die dans af by Inus se huis uitgekom het, sal net Piketberg weet. Die volgende oggend het ou Inus ons ‘n klein update gegee. Ek en Hugo het glo saam met Korrels (Inus se broer) terug huis toe gery. Vanessa het glo die BMW terug bestuur, en ‘n paar omies het amper vir ou Willem geroer by die saal. Hy weet nie eens daarvan nie.
Toe ek my ogies daai Vrydagoggend oopmaak, toe begin ek amper huil, want dit is toe dat ek besef het dat daar nog ‘n fees vir ons wag. Mense, as julle nog nie op hierdie skou was nie, dan MOET julle hom bywoon, en as julle ‘n man daar raakloop met die naam Inus, dan moet jy hol en nie eers omkyk nie, want as hy jou beetkry dan gaan jy suffer met die voggies.