
Middel van die jaar is op ons en dit is tyd dat ons weg kom van al die daaglikse doen en late en meer belangrik, om bietjie weg te kom van die rekenaars en selfone.
’n Kaartboek word nader getrek en daar word aandagtig aandag gegee waarnatoe die verskillende grondpaaie hardloop. ’n Aanvanklike roete begin vorm vat, maar iets pas net nie lekker nie – te veel teer (nasionale paaie wat ons moet ry). Ons soek vlaktes, grondpaaie, geen paaie, stilte….hoe minder hoe beter. Ek vat ’n kans en gee Johann Tyre van 1st Alignment Center ’n oproep, want ek weet hierdie knaap het al wyd gehardloop met sy Cruisers. Na so 20min gesprek en ’n vinnig email van hom het ek ’n splinternuwe sirkel roete met waypoints en die hele spul vir die vakansie…
Mamma hou vas ons gaan Tankwa Karoo (vlaktes), Sutherland (sneeu), Hammelhoek (wild) & Cederberge (berge) toe.
Saterdagoggend so net na 10h00 en albei Tigger se tanks (95 + 50 liter) is vol en ons vat die pad Tankwa Karoo via die Bainskloof pas via Ceres. Opwinding is groot want vanaand slaap ons in die veld. Kan al die nektar van my 1st koue bier op my lippe proe en natuurlik Marli wat my rond jaag om seker te maak alles aangaande die tent is reg.
By Tankwa Karoo aangekom doen ons gou al die nodige by ontvangs en dan is dit effe terug met die pad en dan links op die jeep track na die Perdekloof kampplek.
Perdekloof is ’n ideale wegbreek plek as jy daai privaatheid van die bos en omliggende area soek, maar ter selfde tyd skoon en netjiese geriewe vir vroulief en kleingoed soek. Die weer het begin onheil draai en ons moes gat wikkel om alles in plek te kry voor die water & yskoue wind ons vang. Daai aand het ons lepel gelê soos in die OU DAE my maat want die woord “koud” was ’n relatiewe begrip so koud was dit…
Oor die volgende 2 dae het ons die park lekker verken en om elke hoek en draai word daar van agter (Jean) geskreeu dat ons moet stop want hy sien wild. Die knaap was in 7de hemel en sweer as ons hom daar uit moes haal sou ons hom nooit weer gekry het nie…
Na twee koue aande in die Tankwa se vlaktes is ons Sutherland toe via die Ouberg pas. By ontvangs kon niemand vir ons sê of die pas oop is na die onlangse sneeu nie, maar ons het besluit ons gaan in elke geval ’n kans vat. Geluk was aan ons kant en na ’n rustige rivier kruising was daar geen ander hindernisse in ons pad nie en ons kan Tigger se bene lekker laat rek die pas op.
’n Week voor ons vertrek sien ons berigte van waar sneeu tot 2m diep lê by Sutherland en die omliggende area, maar in +/- 5 dae het 80% reeds gesmelt en sien ons net lappies sneeu al langs die pad en op die hoë koppies soos ons Sutherland inkom. Die dorp is stil en al die gaste wat die vorige week vasgesneeu het, is reeds weg. Kry net buite die dorp ’n lekker stukkie sneeu en sien hoe ’n seuntjie sy eerste ontmoeting met sneeu terdeë geniet. Die aand word daar ’n bottel rooiwyn geniet in een van die cozy restaurante voor ’n kaggel.
Volgende oggend is dit nie vêr ry nie, want ons gaan net af met die Verlatenkloof pas waar ons een aandjie by Verlantenkloof Gasteplaas gebly het.
Van daar is dit Middelpos toe via Sutherland, en hoe kan mens nou nie stop en ’n koue lafenis by die bekende hotel geniet nie. Marli en boeta het maar aan ’n koffietjie en koeldrank gesope.
Van Middelpos is dit net af met die Gannaga pas tot terug in die Tankwa Karoo en dan skiet ons regs uit die park op pad Hammelhoek toe wat grens aan die park. By Hammelhoek uiteindelik aangekom word ons verras deur ’n paar Zebra’s so 20m van ons kampplek af. Jean was oor die maan en weereens moet ons die knaap amper vasbind anders foeter hy die vlaktes agter die goed aan.
Weer het weer sy lelike kant begin wys, maar gelukkig was daar nie reën nie. Die views van die hoofhuis slaan jou asem weg en ek is spuit ek is nie ’n meer gesoute fotograaf om die views vas te vang nie, maar bliksem mooi bly maar mooi.
Volgende oggend is ons vroeg aan die gang want ’n lang dag wag vir ons. Ons moet die Doringrivier kruis vandag op pad Wuppertal toe, maar niemand kan vir ons sê of hy reeds invloed is nie. Johan het gewaarsku teen die rivier in die wintermaande, maar hey as jy nie self gaan kyk nie hoe gaan jy weet.
Die laaste gedeelte na die rivier toe raak die pad plek-plek weg, maar gelukkig is T4A in ons kant. Skielik staan ons voor ’n hek wat sê die pad is toe weens verspoelings. Nè dog ek – nou omdraai sonder om self te sien…dit gaan nie gebeur nie. Met die hek agter ons toe sak ons stadig die koppie af. Skielik sien ek hierdie magdom water en my gemoed sak sommer in my broek want ek weet hier is geen kans in hel wat ons hierdie ding gaan kan kruis nie.
Onder by die river toets ek die water, maar eish mens sak sommer lekker weg in die sand. Marli foeter ook neer aan haar kant van die Cruiser. Ek moet hard sluk om nie hard te lag nie, want anders sou ek bloei. Modder is dik en skoene word sommer op die dakrak gefoeter. Om alles te kroon dring boeta daarop aan dat hy nou wil pee so nou nog meer modder voete buite…#LoveIt
T4A word geraadpleeg en al pad is om op die grondpad te kom wat tussen Clanwilliam en Calvinia hardloop en dan kan ons links skiet Wuppertal toe. Die avontuur raak al hoe groter want nuwe paaie word verken en weereens vat T4A leiding.
Uiteindelik by Wuppertal aangekom stop ons gou vir ietsie kouds vir die keel, voor ons die berge infoeter. Die eerste gedeelte van die pad is maar styl en kronkel deur die bolders. Sodra jy bo is foeter jy deur tonne klein rivier stroompies en as jy jou oë uitvee ry jy deur ’n klein gehuggie in die middel van êrens & nêrens. Moet sê ek en M was verstom toe ons die paar huise hier in die middel van die klowe gekry het.
Het laatmiddag by Driehoek uitgekom na ’n lang dag op die pad. Die wêreld was woes nat en koud so die cozy hout huisie was net die regte medisyne. Vir 2 dae het ons cozy verkeer terwyl die wêreld groot water vat. Daar was lekker geëet, soetwyn het geloop en kaart speletjies gespeel.
Die aand voor ons vertrek het die reën eers hard neergekom en ek het gewonder hoe ons kamp avontuurtjie gaan wees vir die volgende twee dae by Cederberg Oases, maar geluk was weer aan ons kant want die oggend toe ons oppak was daar geen teken van wolke nie. Die twee dae se koue weer het sy merk gewys met sneeu op die pieke om ons.
Ons was sommer vroegoggend by Cederberg Oases en tekens van die vorige 2 dae was daar geen. Paul en Marina het kom saam kuier vir die laaste gedeelte van ons trippie en soos altyd was dit ’n avontuur op sy eie…toets rugby + ‘honesty bar’ = chaos x 2…whahaha
Na twee dae se liewe sonskyn weer en ‘n kuier saam met goeie vriende het ons die laaste +/- 150km terug Wellington toe aangepak.
Die laaste 10 dae was kos vir die siel en ek dink Jean het die avontuurtjie meer as ek en M geniet.
Laat ons maar begin beplan aan die volgende ene dan…
Kliek hier vir meer foto’s.
Waar het julle so deur die revier gery… ?
Hi Engela,
Dit is as jy van die Tankwa Reservaat ry oppad Ouberg Pas toe.
Groete,