Katse Dam jou wetter

Vrydag, 26 Desember, en ons groep (Marli se ouma & tannie-hulle en beide ons en skoonouers) vat die pad Bethlehem toe via Reitz. By Bethlehem word daar eers ‘n koffietjie en koeksisters geniet by M se ander tannie-hulle, waar haar ouers die aand gaan oorslaap voor hulle die volgende oggend die pad terug Kaap toe aanpak.

Van Bethlehem af is dit op die R711 na Clarens en WOW, wat ‘n ongelooflike dorpie. Ek kan nou sien hoekom Clarens so baie die juweel van die Oos-Vrystaat genoem word. Van Clarens af is dit op die R712 Golden Gate Nasionale Park toe.

Bergwoning sou ons tuiste wees vir 2 aande. Dit het ‘n baie klein kampterrein en is omsingel met berge en ongelooflike uitsigte.

Marli wou met alle mag weer ‘n draai gaan maak in Clarens en deur al die winkeltjies en stalletjies gaan. Hoe sy dit doen weet ek nie, maar na ‘n paar uur was ek verby gatvol en wou nie meer ‘n winkeltjie of kunsgalery sien nie. Maar sy is soos ‘n masjien en nes ek dink ons is nou klaar en kan teruggaan Bergwoning toe, dan sien sy nog ‘n plekkie wat sy nog nie fyn verken het nie.

Uiteindelik was ons klaar en met twee groot melkkanne, wat sy met alle mag wou hê, is ons terug.

Golden Gate is mooi, maar persoonlik dink ek as jy eers in Lesotho was en jy daai magdom berge om jou voel, dan is daar min ander rotsformasies wat jou dieselfde ‘Wow!’-gevoel kan gee. Dit bly nog steeds baie mooi en ek is bly ek het my foto of twee daarvan gekry.

Sondagoggend, 28 Desember, is ons weereens vroeg uit die kooi en op die pad terug Clarens toe, vanwaar ons links wegbreek na Fouriesburg. Van hier gaan ons dan deur die Caledonspoort grenspos en dan is ons in Lesotho!

By Buth-Buthe draai ons links by die Afri-Ski bordjie en dan is dit net een pad, reguit na ons eindbestemming toe, vir die eerste aand by St James Lodge, wat naby Mokhotlong geleë is.

Mokhotlong is +/- 187km van Buth-Buthe af maar dit is letterlik berge op en berge af. Nou as jy dit nog aanpak met ‘n oorlaaide 1400 Corsa bakkie dan soek jy vir semi-probleme. Party plekke was die opdraandes so steil dat, al is ons in 1ste rat, dit soms die bakkie amper doodgetrek het. Die spanning op jou liggaam is ongelooflik en dit voel of jy die voertuig die pas uit bid. En as jy bo is, is jy so bly net om nog ‘n skok te kry dat doer anderkant wag die volgende ma-helse berg vir jou.

By Afri-Ski besluit ons om die koue te probeer keer met ‘n hot chocolate en toe die bestuurder hoor ons is oppad na St James Lodge met ‘n 1400 Corsa bakkie, het hy maar net gelag en kopgeskud. Sulke terugvoer is nou nie iets wat jy wil hoor as jy weet jy ry nie met die ideale voertuig vir hierdie omstandighede nie. Om dinge net nog te vererger was daar glo die vorige aand 3 groot donderstorms en dit het al die tonne klein watervalle en riviere laat afkom wat ons verby gegaan het.

Van Afri-Ski verander die teerpad in een, lang, slaggat-gemors. As jy nie fokus nie, ry jy maklik jou wiele in hul peetjie in.

So 20km van Afri-Ski tref ons die Tiaeeng Pas (Highest Motorable Pass in Africa).

‘n Paar kilometer verder verras Lesotho ons met sy eie diamantmyn, Letseng la Terae Myn. Beide van ons was sprakeloos; ‘n myn hier in die middel van die bergkoningryk – ongelooflik!!

‘n Paar kilometer voor Mokhotlong draai ons links op ‘n grondpad wat, as jy sou reguit aangaan, jou by die Sani Pas sal besorg. Ons was so twee jaar gelede daar, so dit is nie nodig om weer daai stukkie pad aan te pak nie. 3km verder draai ons links en dan is dit nog so 4km, dan is ons by die “Roman Catholic Mission of St James”.

St James Lodge is geleë teen een van die koppies met ‘n uitsig oor die hele gemeentskap. Na ‘n vinnige geselsie met ‘n paartjie wat besig was om hul tent af te slaan, word net daar en dan besluit om die beplande kamp vir die aand te verruil vir een van die kamers. Die vorige aand se twee donderbuie was glo so erg dat hulle tent in ‘n binnenshuise swembad verander het.

En soos die duiwel nou maar is pak die wolke daai aand bymekaar en hier by 01h00 die oggend kom daar ‘n vrag water van Bo af op ons neer. Dit reën naderhand so hard en aanhoudend dat ek en M mekaar nie kan hoor as ons praat nie!

Die volgende oggend, 29 Desember, en die wêreld is nat…WOES nat. Ek maak vir ‘n laaste keer seker met die bestuurder hoe die pad na Thaba-Tseka loop en of ek die 58km met ‘n 4×2 kan maak na die Katse Dam met my bakkie. Hy kyk en kyk weer en skud sy kop: “Sure, just dont stop.”

Dit weet ek ook, en dit beteken dat daar nie tyd gaan wees om egalig deur dippies te gaan as ons ‘n koppie moet aanpak nie.

Die eerste probleme het sommer by die lodge se hek begin waar daar pad heeltemal verspoel het. Ons het sommer gly-gly deur die hek gespin dat jy net modder en beesk*k sien wat die lug in geskiet word.

‘n Skerp links, 2de rat, regtervoet teen die vloer en dit is gly-gly teen die koppie op. Van hier af is dit alles grondpad tot by Thaba-Tseka en dan Katse Dam toe.

Die eerste 70km na Taung het maar rof gegaan en ek moes ‘n hele paar keer bontstaan sodat ons nie in die wal of afgrond ingly nie. By Taung draai ons regs en dan is dit net oor die Sengu rivier en dan is ons by Thaba-Tseka en nader aan ons eindbestemming vir die dag, Katse Dam.

Maar die twee dae se donderstorms in Lesotho het ‘n lelike en wrede stokkie voor ons reisplanne gesteek.

Die brug wat ons oor die Sengu rivier moes neem was onder water. Dit was so erg dat selfs ‘n groot 4×4 nie ‘n kans wou vat daaroor nie, want as die water jou vat, dan loop haal hulle jou in die suide van Lesotho!

Die klok slaan 10h00 en ons is so naby aan Thaba-Tseka. Ons gesels so bietjie met die locals en hulle reken ons moet net vir so 2 ure wag dan sal die water sò sak dat ons kan oorgaan.

15h00 en daai rivier het nie ‘n millimeter gesak nie. Die wind het ook nou opgekom, so op party plekke lyk dit amper of die rivier erger afkom.

Hierdie rivier gaan nie sak nie en dit is al manier om by Katse Dam uit te kom. Die ander manier is om heeltemal terug te gaan van waar ons twee dae gelede begin het, Buth-Buthe.

Aaai, dit was baie teleurstellend want ons wou so graag die toer deur die Katse Damwal doen, maar hey; een deur word toegemaak en ‘n ander gaan weer oop.

Ons besluit toe om terug te skiet tot by Afri-Ski waar ons die aand sal oornag voor ons die volgende oggend weer by Caledonspoort grenspos sal uitgaan.

Alhoewel Afri-Ski nog nie eers 3 jaar oud is nie, kan mens sien dat dit werklikwaar ‘n top ski oord gaan wees oor so paar jaar.

Dinsdag, 30 Desember, 11h00 en ons gaan deur die grenspos en is weer terug in die Oos-Vrystaat.

Volgende is dit ons en die Drakensberge!!

Leave a comment