Scroll Top
19th Ave New York, NY 95822, USA

Toer Beaufort West toe (deel 1)

So maand of twee gelede is ek deur Beaufort West oppad Van Der Kloof dam toe en my ou lugmag vriend Jakalaas, wat nou nes geskop het in die Groot Karoo dorp, het gesê dat as ons ooit eendag ‘n lekker kuier wil maak, moet ons Karoo toe moet kom. As ander mense sulke uitlatings maak dan moet ons seker gehoor gee. Gou word daar besluit om die beplanning minimaal te hou en as ons in Beaufort West kom sal ons alles aanmekaar plak.

So gesê en so gemaak; Vrydag laatmiddag tussen 18h00 – 18h45 kom almal by Vic en Skaap op die plaas. Bakkies word gepak, paar slukke port word die keel af gejaag om die bloed vinniger te laat klop, canopies word afgehaal en toe die klok 19h00 slaan, trek die 3 bakkies van die plaas af weg.

Robbie het al vroeër die middag laat weet hy is op Mosselbaai en hy bring sommer sy pal Willem saam. Hulle kry ons op Beaufort West so ons moet gat roer want hulle gaan solank begin kuier.

Vic gee die pas aan met sy 2.5 Isuzu terwyl die twee 3.0Liters kort op sy gat hardloop. By Worcester word daar gou gestop om Stefe op te tel en dan is dit ons en die N1 en al sy blerrie trokke.

Die wêreld is koud agterop die bakkie en as jy hoor daai bakkie gaan in ‘n laer rat dan weet jy sommer hier is ‘n trok voor ons en ons moet verbygaan. Die wind van die bakkie en die geraas van die trok so halwe meter van jou is nogal senutergend so in die donker nag.

Soos ons deur die Hex Rivier Pas skiet staan die Matroosberg dikbors met sy wit gesneeude toppe… manne, maar ons gaan mos k*k die naweek is al wat ek kan aan dink. Het natuurlik daai gedagte met niemand gedeel nie… Ek sal mediese kostes moet aangaan sou hulle my van die bakkie afvoeter…

Die port loop soos petrol op ‘n uitverkoping, maar die koue wil net nie weg nie. Dirk en Ricky langs my sit ook en dink wat de hel hulle agterop hierdie bakkie in die middel van winter soek.

Na tonne trokke en Skaap wat amper gesterf het met die dat hy sommer water afslaan in die ry is ons uiteindelik op Beaufort West. Die regering slaan Parma gou met ‘n R500 boete vir geen nommerplaat voor op sy bakkie en ek weet as daai knaap nou ‘n paar kappe ingehad het, dan sou hy dit nie daar gelaat het nie… Wie de hel skryf boetes 24h00 die aand?? Ons moet gaan kuier, moenie ons tyd so mors nie!!

By Jakalaas aangekom staan die vure al hoog. Blad word geskud en sommer vinnig-vinnig kom die goue seuns (Olof) uit en nou-nou se koue is skielik iets van verlede. Vic & Sieb trek, soos altyd. die wa deur die drif…

Saterdagoggend en dit lyk of daar Bedford trokke met mortiere deur Jakalaas en Elsa se huis gejaag het. Orals lê daar siele, Parma lê een standaard huis se gang vol, Skaap verkrag ‘n arme sitkamerstel met sy gewig, Vic en Sieb het sommer besluit hulle sal buite op die stoep slaap…

Die koffie brand die kele en orals hoor jy hoe ‘n siel blaf met ‘n huggie / hoesie. ‘n Paar van die knape bestudeer eers Jakalaas se Aga-stoof en redeneer nou hoe hulle die ding die huis gaan uitkry en op die bakkie laai SONDER dat Jakalaas daarvan weet…

Anine vlieg gou onder ‘n paar knape se hare in voor die bakkies gepak word vir die trippie veld toe. Ys, mix, kos en so paar back-up goue seuns (wat agter die sitplekke weggesteek word) word gou gekoop in die dorp. Bakkies word volgemaak by die laaste garage net voor jy die dorp uitgaan en dan steek Jakalaas sy bakkie (nou 4 bakkies in totaal) se neus in Drie Susters se rigting en al vier bakkies hardloop in ‘n lekker konvooi.

Lees gerus ook:

– <a href="http://www.henry.co.za/articles.asp?ART_ID=631&Step=2" class="link10">Beaufort West se watse koue deel 2</a><br>

Leave a comment