19th Ave New York, NY 95822, USA

Kamp by Quaggaskloofdam

Die naweek het ek myself by die Quaggaskloofdam bevind, waar van ons pêlle aan die “Regional Inflatable Boat Racing” deel geneem het. Die Quaggaskloofdam is tussen Rawsonville en Worcester en is ʼn paradys vir boot en ski eienaars.

Saterdag was ʼn mislike dag, weergewys, en die wind en reën het dinge nie maklik gemaak vir die deelnemers nie. Dam resies is gewoonlik gekenmerk aan plat water wat groot spoed beteken. Boot set-ups moes oor en oor aangepas word om met die weer verandering aan te pas.

Later het die weer gebreek en nes die noodlot dit wil hê het die wind gaan lê toe die dag se resies verby was. Gelukkig was daar geen ernstige voorvalle op die water nie en is almal darem veilig terug by hulle tente en reg vir die aand se spitbraai.

Teen diè tyd het ons spannetjie groter geraak met die koms van nog ʼn paar pêlle en met Steyn wat al menigte male dit beklemtoon het dat die boot manne lekker kuier, kon ek nie meer wag vir die geleentheid nie.

Die restaurant / bar area was gepak en almal was reg vir die Stormers game.

Nou teen hierdie stadium kan ek in meer detail gaan hoe die kuier / aandjie verloop het, maar ons almal weet hoe so storie saam met vriende en lekker kuiermanne kan handuit ruk. Ek bedoel so handuit ruk dat jy nie jou tent se zip kon kry nie en maar besluit het om die ding te bekruip van onder af, dit terwyl jou pêlle op ʼn afstand staan en hulself natmaak terwyl jy jou naam, weereens, met ʼn baksteen slaan.

Sondagoggend word ek wakker met ‘n kop wat wil bars. Die boot manne is klaar op die water en is besig om bootsettings reg te kry vir die dag se longhaul. Wat de hel het gisteraand gebeur? Hoe laat het ek kom slaap? Liewe hel…kan ek liewers nie sterf nie, net dat die pyn kan verdwyn??

Na ‘n gesukkel en baie moeg is ek uit my tent.

“En hoe voel ons vandag Jonker?”, sny Ruan se woorde deur my sensitiewe ore.

Nou hoekom sal hy so iets vra wonder ek? Lyk ek dan so k*k ook van buite? Forseer ʼn koppie koffie af en besluit dat die enigste ding wat hierdie situasie kan beredder is ʼn warm shower en my tandeborsel.

Op pad shower toe loop ek verby een van die boot manne wat haastig op pad water toe is.

“Hoe voel daai kop vandag ou maat?”

Uhmmm…dalk het hy my misgis met iemand anders, want ek ken maar min van die manne.

Uit die shower en ek voel geensins beter nie. Om eerlik te wees, voel ek nou slegter.

Nou van die showers af tot by ons tente is dit seker so 20 meter se stap. Soos ek om die een kamptrailer strompel, loop ek amper ‘n tante uit haar klere uit.

“O hel, jammer tannie!”

“Geen probleem. Ek moet kyk waar ek loop. Maar hoe voel ons vandag? Kan nie glo jy is al op nie.”

“Uhmmm…totsiens tannie..”

OK, nou raak ek semi-ongemaklik en dit voel byna of almal op die kampterrein vir my loer en oor my skinder-fluister. My tree raak vinniger en langer…10m, 8m, 6m, 4m…

“Bly om te sien jy is darem wakker”

WIE IS AL DIE MENSE?!?! Praat hulle regtig met my of is dit net my mind wat met my sukkel? As ek geweet het hoe gisteraand geëindig het, sal dit klaar help, maar daai info het ek nog nie 100% onder die knie nie.

Uiteindelik terug by die kamp oorval ek Marli met vrae en hoe meer sy vertel, hoe kleiner begin ek raak. Hoe kon dit gebeur? En hoe meer ek die legkaartstukke bymekaar sit, hoe duideliker raak my twee GOEIE vriende se gesigte vir my: Vicky en Siebrits, die lae wetters. Die knape het die samesyn aspris dubbeldik aangemaak die vorige aand, want hulle wou hierdie knaap laat sneuwel en soos ek nou van al die stories kan aflei, het hulle dit wraggies reggekry – klein &(%@#$!!!!!

Die kort weergawe van ‘n baie lang storie is dat wanneer jy saam met GOEIE, BETROUBARE vriende kuier en lekker samesyn vier, beter jy seker maak alle partye het dieselfde planne vir die aand, anders gaan jy ‘n paar verrassings die volgende oggend kry as vreemde mense jou begin groet!!!

Baie geluk aan al die wenners van die naweek veral ons sjommas Steyn Basson en Jan Kriel wat die Blue Print klas gewen het!!

Leave a comment