Om 3 weke by die see, by die huis of by dieselfde vakansieoord te sit sal veroorsaak dat ek my groottone een vir een opvreet en herkou.
Met diè houding probeer ek en Marli om ons Desembervakansie te gebruik om plekke in SA te gaan besoek wat ons nie tyd het voor gedurende die jaar nie.
Omrede ons al die suide van Lesotho getoer het was die plan om bietjie die noorde te besoek. So met hierdie idee as ‘n beginpunt, het ons die res van die vakansie rondom dit beplan.
Vrydag, 19 Desember, 22h30 ry ons Oudtshoorn in om die eerste aand van ons vakansie by my ouma te oornag. Die plek is ma-vrek warm en enigiets wat ‘n vorm van wind maak word nader getrek om net deur die nag te kom sonder om te versuip in jou eie sweet terwyl jy slaap.
Saterdagoggend is ons vroeg uit die vere en op die N12 De Rust toe. Van hier breek ons regs op die R341 tot ons by die N9 kom wat ons Graaff-Reinet toe gaan vat.
Van hier is dit Middelburg toe tot ons die N1 tref by Colesberg van waar dit nog so +/- 40km is voor ons by Gariep Dam kom. Aventura kampterrein is ‘n groot plek en is gepak met vakansiegangers (90% Vrystaters & Transvalers).
Die twee dae wat ons daar gekamp het was meestal by die swembad spandeer en om ‘n koue lafenisse by ons kampplek te geniet. Beide besoeke by die natuurreservaat, net buite Aventura, asook die toer van die damwal moet definitief die 2 hoogtepunte wees vir die 2 dae daar.
Maandagoggend, 22 Desember, is ons vroeg op die N1 Bloemfontein toe. Die plan van aksie sou wees dat ons by Bloemfontein op die R700 sal klim wat ons Bloemhof toe sal neem waar ons ook 2 aande sal kamp. Al probleem was dat, omrede daar net kampplek vir ons sou wees reg langs die dam, ons geen beskutting sou kry van die son nie.
Die temperatuur by Gariep was gemiddeld +/- 32C en nie een van ons was lus om met die son te sukkel nie. By Bloemfontein vlieg ons die naaste Toerisme kantoor in en na so uur se beplanning, ‘n paar oproepe en iets vir die maag kry ons plek by Aldam wat so paar km verby Winburg is.
By Winburg besluit ons om die Voortrekker Monument te besoek en aai, dit is hartseer om te sien hoe die plek verwaarloos word. Die Monument moes ongelooflik gewees het voor vandalisme en onnooslike bliksems dit beskadig het.
Dit was nog steeds ‘n emosionele besoek en ek is bly ek kon my oë op die Monument sit. Hoop net dit sal nog daar wees sodat my kinders dit ook eendag kan sien.
Die twee dae by Aldam was kos vir die siel. Ons het besluit om die tent ‘n ruskans te gee en eerder in een van die chalets in te boek. Daar is darem NIKS so lekker soos ‘n ‘airconditioned’-kamer as jy die hele dag in die son was nie!
23 Desember, en Marli is nog ‘n jaar ouer. Die dag was meestal spandeer om al die aktiwiteite wat die plekkie bied te toets… Ek dink nie hulle sal my weer toelaat op hulle trampoliens nie… dink ek is dalk net effe te groot daarvoor!!
Net voor aandete het ons op ‘n “game drive” deur die Willem Pretorius Natuur Reservaat gegaan en ek het lanklaas soveel kameelperde op een plek gesien.
Woensdagoggend, 24 Desember, is ons weer op die N1; diè keer tot by Kroonstad waar ons regs afklim op die R34 wat ons hopelik tot by Frankfort sal neem, waar ons Kersfees saam met M se familie, ouma en tannie-hulle sal geniet.
Tweede keer (eerste keer was by ons troue) wat ek oom Dolf-hulle nou ontmoet het asook die eerste keer wat ek Marius (sy skoonseun) ontmoet het en maggies wat ‘n lekker groep mense. Saans het ons tot laat buite gesit en lekker stories geruil… Oom Dolf is ‘n regte storieverteller en ek dink ek sal hom nog graag op ‘n Willeklong trip wil saam neem!
Marius het Kersdag ons so bietjie sy vernuf gewys met sy mikrovliegtuig, maar na die eerste vlug het die wind opgetel en die wyse besluit word geneem om liewers nou te stop, anders gaan daar nooit weer ‘n tweede vlug vir daai vliegtuig wees nie!
Die Oos-Vrystaat het ‘n mooigeid van sy eie en as jy nie hou van donderweer nie, moet jy liewers daar wegbly. Elke aand het ons donderweer gekry en elke keer het M seker ‘n meter die lug ingespring as die weerlig slaan!!
Die eerste paar dae van die vakansie is iets van die verlede en van hier af gaan ons nou suid Lesotho toe.