Scroll Top
19th Ave New York, NY 95822, USA

Wittebrood (deel 1) – St Lucia

Die Sondagoggend na die troue het ek en Marli lank in die bed gelê en die vorige aand se gebeure oor en oor bespreek. Het lekker vir haar gelag toe sy joke oor haar nuwe van wat sy nou het en dat sy AL haar persoonlike details moet vervang bv. paspoort, ID…

Ons het almal se advies gevat en n ekstra dag by De Opstal gebly voor ons vertrek het met ons wittebrood. Dit was seker die beste ding wat ons kon gedoen het want ons twee was so moeg dat ons die hele dag geslaap het.

Maandagoggend en my ouers is vroeg by De Opstal om ons George toe te vat vanwaar ons sal vlieg na Durban om ons twee weke avontuur te begin.

Durban se hitte was iets anders om aan gewoond te raak en met n rental sonder aircon het dinge maar rof gegaan. Na +/- 4 ure op die pad draai ons regs by die bordjie wat Hluhluwe se. Van hier volg ons die R22 tot ons n grondpad kry vanwaar dit nog so 50km is voor dit doodloop teen Nibela Lodge se hekke.

Oppad soontoe kon ek nie ophou wonder of ek die regte keuse gemaak het nie. Ons het die week by my sussie as trougeskenk gekry en sy sweer dit is een van die beste lodges in Natal. Maar nerens is daar bordjies wat hierdie wonderlike lodge aanwys nie en die grondpad was ook nie iets om oor huis toe te skryf nie, maar was ek nie so verkeerd nie…

Nibela Lodge is omsingel met water en dit dek die hele punt van die False Bay. Die lodge bestaan uit 20 eenhede wat gebou is op pale en wat gekonnekteer is met n walkway wat op party plekke tot 3m van die grond af is. Ek en M was so dumbstruck oor die hele opset dat toe ons die meer die eerste keer sien toe ons by die hoofgebou kom, kon ons dit nie glo nie. Van die lodge tot oorkant is dit 9km en in tot by die dorpie St Lucia waar die lagoon is, is dit 40km.

Om die son oor hierdie meer te sien opkom is een van die mooiste goed wat ek in my lewe al beleef het. Maar minder as n jaar gelede was hierdie wonderlik skepping n droe woestyn gewees. n Olie boot het so paar kilometer anderkant St. Lucia op die rotse beland en olie begin verloor. Uit vrees dat die olie in die meer gaan kom, het hulle die mond toe gemaak en om dinge net nog erger te maak het die reen weggebly wat gelei tot die droogte.

Ons was bevoorreg om die laaste eenheid (wittebrood ene) te kry en soos ons na die eenheid toe stap het ons besef dat dit nogal n entjie se stap elke dag gaan wees restaurant toe, maar toe ons die uitsig van ons plekkie sien het die bekke weer oopgehang.

5 dae se rus en vrede het op ons gewag. As ons 3 ure per dag buite ons eenheid was, was dit baie. Laat slaap, baie eet, nog slaap, nog eet, nog meer slaap…so het elke dag verloop. Ons kon nie vir beter vra nie.

Teen Woensdag het ons besluit om bietjie lewe te kry en vir n trippie op die meer te gaan. Terug by die lodge het ons so paar koues oor die lippe gesit waarna ons weer kamer toe is, net voor n klein reebuitjie neersif.

Die volgende dag (ook ons laaste daar voor ons vertrek vir die volgende bestemming) ontmoet ons nog n pasgetroude paartjie wat ook hulle wittebrood daar spandeer. n Rustige kuier ontaard in n groot kuier en nog n groot kopseer die volgende oggend.

Die vyf dae by Nibela Lodge was kos vir die siel gewees en presies wat ek en Marli nodig gehad het.

Die gasvryheid en ongelooflike uitsigte het deel geword van ons daaglikse roetine en al was ons net vyf dae daar gewees, was ons hartseer toe ons die Vrydagoggend uitgeboek het.

Van hier is dit na die tweede deel van ons wittebrood…

Leave a comment