Scroll Top
19th Ave New York, NY 95822, USA

Van Der Kloof en sy gawe mense

Soos enige ander langnaweek moet mens vooraf ‘n sekere hoeveelheid beplanning doen om die sukses van hierdie baie benodigde kort vakansie te optimaliseer. Soos enige iemand wat vir ons ken (veral vir Henry ken) is die doel van so ‘n langnaweek om soveel, en so wyd as moontlik in ons land in te vaar en te travel. Daar mag nie ‘n grondpaadjie of ‘n Karoobossie oorgeslaan word nie. Alles moet gesien, gevoel en ervaar word en met geen verdere versuim is dit toe presies wat gebeur het…

Ons is vriendelik uitgenooi deur die fantastiese mense by Pride Rock Lodge te Van der Kloof dam om die naweek by hul te gaan deurbring. Van der Kloof is toe ons bestemming, maar die rit soontoe en terug was ‘n roadtrip se goud werd!

So vertrek ons laat Woensdagmiddag en oor die berge Worcester se kant toe. Na vier ure se ry raak die pad donker, die musiek in die bakkie gee ons oorpyn (ek het perongeluk net vyf CD’s ingepak) en ons maak maar ‘n baie benodigde noodstop te Beaufort Wes. Daar is ons baie vriendelik verwelkom deur Jacques (Jakalaas) en Elsa (ou vrinne van Henry) en die kuier word toe uit die boonste rakke aangegee met Amarula, Whisky en ou Lugmag stories.

Donderdagoggend bring heerlike, koue Karoo weer en ‘n lekker ontbyt en warm koppie koffie was aan die orde van die dag voor ons in die pad geval het. Niks vergelyk met die gevoel wat mens kry op die lang, oop pad met Karoobossies, koppies en springbokke wat jou van alle kante besig hou. Verby Drie Susters en ons draai by Hanover af om ‘n smal paadjie te volg deur Philipstown en dan Petrusville om by ons bestemming, Van der Kloof, uit te kom.

Die Van der Kloof dam (+/- 900km van die Kaap af) is die tweede grootste dam in ons land en in 1977 in werking gestel. Dit spog met die hoogste damwal (108m) in Suid Afrika, is 85km lank en benut water vir 100 000 hektaar besproeiings. Dit is enorm en definitief iets vir die oog. Jy vergaap jou maklik aan die magdom water en wonder hoekom mens nooit van die plekkie al gehoor het nie.

Die mense van Pride Rock Lodge (wat uitkyk oor die dam) het ons met ope arms ontvang en mens voel skoon of jy by vriende kuier as jy jou sakke eers neergooi, skoene uitgetrek het, lekker glasie port by die kroeg kry en deur die plekkie wandel. Rika en Ernie Shutz is die trotse eienaars van Pride Rock (9 jaar lank al) en hul regterhand en bestuurder is Mike. Pride Rock spog met 26 slaapkamers en ‘n fenomenale restaurant met ‘n baie gesellige kroeg. Die warm atmosfeer is enige vakansieganger se droom en enige iemand sal tuis voel in die hande van Rika en haar span.

Rika spog ook met ‘n koffiekroeg in die dorpie en sy behartig ook spyseniering vir enige funksie, van spitbraai tot reünies. Vir die meer avontuurlustiges onder ons is daar bootritte en jagpakkette beskikbaar en natuurlik ook hul baie bekende jaarlikse boot Regatta (roeiwedstyd). Tot en met 300 studente neem jaarliks deel en dit val gewoonlik op die naweek na Paasnaweek.

Ernie het ‘n gawe vir tuinbou en as mens na die foto’s op die muur staar van die beginjare van die gastehuis, kan mens nie glo hoe hy dit reggekry het dat die tuine en waterkanale so ongelooflik mooi lyk nie. As mens met sy personeel praat sal almal jou vertel hy is ‘n “Jack of all trades”.

Van Der Kloof is nie net bekend vir die dam nie, maar ook die Boesmantekeninge en die Boere konsentrasiekamp in die omliggende areas trek ook gereelde besoekers.

Ons het ook by die omliggende dorpies soos <a href="http://www.orania.co.za" target=”_blank” class="link10">Orania</a> en Hopetown ‘n draai gaan maak, maar Henry se voet het op die petrolpedaal gebly en ongeveer 180km duskant Van der Kloof het ons die stad van die <a href="http://af.wikipedia.org/wiki/Kimberley" target=”_blank” class="link10">Groot Gat</a> raak gery, Kimberley. Hier het ons die Gat bekyk, ‘n foto geneem en is ons terug na die stilte en geselligheid van Van der Kloof.

Ons land is vol van onontginde skatte en Van der Kloof is ‘n bewys hiervan. Ek sal vir enige iemand, wat van die hoofstroom wil wegbreek, aanraai om ‘n draai by Rika, Ernie en Mike te maak en onthou tog om ‘n stukkie van Rika se wortelkoek te eet! Besoek gerus die dorpie se amptelike webtuiste as jy nog meer informasie soek – <a href="http://www.vanderkloofdam.co.za" target=”_blank” class="link10">kliek hier</a>. Geniet dit en dankie aan almal wat dit vir ons ‘n onvergeetlike langnaweek gemaak het!!

Artikel deur: <a href="mailto:marli@willeklong.co.za" class="link12">Marli Jonker</a>

Leave a comment