20 Junie sal nooit weer dieselfde wees nie. Gister het ek my eerste Vadersdag gevierr en alhoewel ek eers 13h00 by die huis gekom het na ’n 4×4 trippie saam met die ouens was dit ’n wonderlike ervaring vir my.
Die naweek se 4×4 trippie saam met die ouens in die Cederberge was hard (soos altyd) en toe ek die bakkie 13h00 voor die huis stop met die wete ek is darem veilig terug by die huis was ek verlig.
Soos ek die voordeur binne stap kom groet ’n verligte M my (sy weet hoe hard hierdie naweke kan wees) en in dieselfde asem noem sy dat Jean (10 weke oud) al heel oggend opgewonde in sy kot lê want hy wil glo persoonlik my Vadersdag kaartjie gee.
Kry die knaap toe wraggies in sy kot met sy kleurvolste pakkie aan. Toe hy my sien kry hy ’n soort van ’n grin/glimlag op sy bakkie. Ek hoop dit was van blydskap toe hy my gesien het, maar M reken dit kon wees dat ek so woes gelyk het van die naweek se kuier in die berge.
Langs hom het ’n bruin koevert gestaan. Terwyl ek die koevert oop maak het M my verseker dat Jean dalk so bietjie hulp gekry het van ’n paar tannies met die een kaartjie en ouma & oupa met die ander een.
Jean baie dankie vir pa se wonderlike kaartjies. Toe ek dit oop maak het ek net weer besef hoe dankbaar ek is met jou en ma in my lewe.
As ons weer gaan 4×4 gaan pa jou saam neem.