
Ek onthou dit nog so goed toe iemand vir my sê dat kinders vinnig grootword. By maand 3 van minimale slaap het ek soms gedog daai persoon het geen idee waarvan sy praat nie.
Maar gister het ons klein yster, Jean, 4 jaar oud geword! Dit is moeilik om te dink oor 2 jaar gaan hy laerskool toe en as jy jou oë uitvee is dit sommer weer tyd vir hoërskool…EINA. Net nou die dag het hy gesukkel om te kruip/loop en nou hardloop hy almal en alles om so lewendig is hy.
Die jaar se verjaarsdag het ’n twist gehad. Ouma en oupa Jonker het kom kuier van PE en seker gemaak hul is hier tydens die knaap se groot dag. Dink dit was nog meer spesiaal vir hul om die spesiale daggie saam met hom te vier.
Marli het gereël dat ons wel die 4de (Vrydag) sy partytjie by die skool hou, want baie van die maatjies sal seker weg wees met al die lang naweke in April. Dit, my vrinne, was ’n storie van ’n ander formaat. 50+ kinders op ’n “sugar-rush” is nie grappies nie en jy moet kophou anders kan dit ’n LANG oggend vir jou raak.
Dankie vir die wonderlike seuntjie wat jy is my kind. Ek en mamma is baie lief vir jou en is elke dag dankbaar vir die geskenk wat God vir ons gegee het.