
Middel Maart kry ek ʼn boodskap op een van my vele WhatsApp groepe van ʼn goeie vriend Lourens Hugo (boer in die Franschhoek omgewing) dat hul, Franschhoek Landbouvereniging betrokke geraak het by ʼn droogtehulp projek na Fraserburg en dat daar ‘n sitplek oop is in die vragmotor wat hy gaan bestuur en of iemand wil saam ry.
Nog voor ek my kalender (my vrou) kon raadpleeg het ek laat weet as die geleentheid nog daar is sal ek graag wil saamry.
Vrydagoggend, 5 April so net na 4:45am vertrek die konvooi (bestaande uit vragmotors & bakkies) van die Huguenot Monument in Franschhoek. Terwyl ons stadig oor die Franschhoek pas, op pad na Villiersdorp, beweeg kan ek nie ophou dink hoe hartroerend oom Krige Siebrits se gebed was met die vertrek van hierdie tog.
Soos ons Villiersdorp nader begin die tweerigting radio’s lewe kry. Daar is ʼn opwinding in die lug en mens kry die gevoel dat hierdie ʼn groot gebeurtenis is vir ieder & elk wat deel is hiervan.
Villiersdorp se liggies is maar vaal en die dorp slaap nog toe ons by die res van die konvooi (boere van die Villiersdorp & Caledon omgewing) aansluit. Hier en daar steek ʼn nuuskierige persoon sy kop by die deur uit – wonder seker wat is hierdie geraas en dreuning so vroeg die oggend.
Net buite die dorp kom die konvooi tot stilstand sodat almal die vragte voer + banddruk kan nagaan. Party manne maak gebruik van die geleentheid om die kospakkie wat vroulief in gepak het te bestudeer en ander staan met ʼn fles koffie in die hand en aanskou hoe die son sy oggendstrale oor die Overberg omgewing gooi.
Paar minute later en ons is weer aan die beweeg. By Worcester word die konvooi net nog langer soos nog vragmotors by ons aansluit. Ongelooflike gevoel as jy oor die radio hoor hoe die manne by die konvooi aansluit en almal hulle groet en welkom heet.
5km buite Touwsrivier kom die hele konvooi tot stilstand langs die N1 by een van die vele piekniek plekkies. Die konvooi, wat seker nou maklik al verdubbel het toe ons die oggend uit Franschhoek vertrek het is iets om te beleef.
Soos ek deur die twee rye vragmotors & bakkies beweeg besef ek net weer hoe onselfsugtig hierdie boere & besigheidsmanne is deur alles net so te los op hulle plase & besighede om ʼn gemeentskap wat al +/- 5 jaar se droogte beleef te gaan help.
Ek is ʼn mens wat hou van avonture & om nuwe plekkies & goed te ontdek, maar hierdie is ʼn belewenis so uniek & nuut vir my dat ek meer moes uitvind. Die manne stuur my in die rigting van oom Danie de Waal.
Oom Danie is die voorsitter van die SA Jag en Wildbewaring Vereniging (Overberg tak) en hierdie is hul 14de aflewering na Fraserburg (74 boere) en Sutherland (142 boere). +/- 3,800 ton voer (wat deur boere in die Overberg & omgewing geskenk is) en baie kos vir die ouetehuise is al afgelewer.
Toe die nuus breek dat nog so ʼn aflewering gaan plaasvind het Franschhoek Landbouvereniging hul hand opgesteek dat hul sal help (in samewerking met boere van Villiersdorp & Caledon en ʼn klomp vrywilligers) met die vervoer van die voer.
So net na 11am draai ons links by Leeu Gamka op die R353 en met die dat die konvooi so bietjie uitmekaar getrek is soos ʼn konsertina word daar ʼn laaste keer gestop, so paar km verder naby ʼn paar doringbome, sodat die konvooi weer agter mekaar kan wees.
Almal word nader geroep en die laaste reëlings word bespreek en gefinaliseer. Na ʼn groep foto is die konvooi vir die laaste keer aan die beweeg.
80km verder en Fraserburg se kerk toring kom in sig. Ek het intussen by oom Willie in sy bakkie gespring en ons is die laaste voertuig van die konvooi. Ek en die oom praat tog te lekker, maar soos ons die dorp in ry en ons sien ʼn groep kinders met ʼn welkom / dankie plakkaat raak ons albei onmiddellik stil. Nie een kan ʼn woord uit kry nie en dit voel of my emosies my wil oorval. Skielik verlang ek na my seuns tuis en wens dat hulle deel hiervan kon wees.
Die konvooi kom vir ʼn laaste keer tot stilstand. Blad word geskud en elk kry ʼn koue bier van ons gasvrou Michelle Fourie. Die aflaai is ʼn proses en ʼn half en onmiddellik word die eerste paar vragmotors aangepak. Elmar le Roux (wat in beheer is van Fraserburg se droogtehulp projek) maak seker dinge bly aan die beweeg en dat die voer by die regte punte afgelaai word.
Terwyl die aflaai van die voer aan die gang is ry ʼn paar van ons saam met Mariette Hugo & Michelle om die kos & ander NB goedjies by die ouetehuis te gaan aflaai. Van hier sal dit dan tussen die ouetehuis & koshuis versprei word waar nodig.
Laat middag en ons beweeg na die gastehuis wat Michelle vir ons gereël het. Om saam met hierdie vrag manne ʼn huis te deel is wragtigwaar ʼn avontuur op sy eie en dit benodig sy eie artikel.
Die dag het einde se kant gestaan, maar nie ons kuier op Fraserburg nie. ʼn Ete / kuier saam met die boere en mense van die omgewing het nog voorgelê so hoe kan mens dit nou nie geniet niet. Hierdie is skaap wêreld so natuurlik word daar gespit, skaapstertjies, wors … man dit is mos koningskos.
Terwyl ek so deur die mense beweeg en sien hoe almal mekaar se geselskap geniet dink ek terug aan iets wat Lourens vir my in die vragmotor gesê het en dit is dat op ʼn mate is boere broers van mekaar. So as die een swaar kry dan help die ander waar hy kan.
Terselfdetyd dink ek hoe ironies is dit nie dat jag en alles wat gepaard gaan daarmee soms in ʼn swak lig gesien word deur van die publiek en hier is hierdie einste organisasie aan die stuur om vee boere in die Karoo te help tydens droogte.
So mooi soos die Karoo kan wees, so wreed kan hy ook wees. As hy gee is dit die mooiste mooi wat jy al gesien het, maar as hy neem dan sny dit diep. Om met boere te gesels en te hoor hoe min hul reënval oor die laaste 5 jaar was, is hartsroerend. Wat ek weet van boer of die nodige hoeveelheid reën wat nodig is om te kan boer in die Karoo is gevaarlik en op ʼn mate voel mens so magteloos. Wat my wel opval is dat nie een voel dat die einde aan sig is, of met hangende skouers stap nie. Almal het moed, hoop en glo dat dinge sal draai.
Terug by die gastehuis na ʼn ongelooflike lekker kuier saam met Fraserburg se mense gaan stap ek ʼn draai in die stil strate. Die wêreld is stil en al wat jy hoor is ʼn hond wat in die verte blaf. Ek kyk op en besef net weer hoe ongelooflik mooi die sterre in die Karoo is.
Ter opsomming – voer wat vervoer was na Fraserburg:
- 168 bigpacks
- 412 ronde kafbale
- 80 klein kafbale
- 70 ton pit kos
Daar is so baie mense om voor dankie te sê, dus wil ek niemand uitsonder nie, maar ek wil wel DANKIE se vir: SA Jag en Wildbewaring Vereniging (Overberg tak), Franschhoek Landbouvereniging en dan natuurlik Fraserburg & sy mense veral Michelle & Riaan Fourie.
Ons dink & bid vir julle Fraserburg. Amen!
Kliek hier vir ‘n paar foto’s van hierdie ongelooflike avontuur.
Onvergeetlike ervaring!!! Dit raak ‘n mens op’ n ander manier!!!
Dankie dat jy dit so mooi in woorde kon vaslé
Mariëtte jy is ‘n vrou duisend.
Dit is voorwaat iets besonders om te lees Henry. Dit laat mens bewoë en anders as om n traan in die oog te kry kan ek nie. Hier is die bewys dat as ons mense wil kan ons net so goed vir mekaar wees as wat die wêreld of die natuur hard en wreed kan wees. Wel gedaan aan julle almal!
Henry hierdie is die mooiste manier waarop jy hierdie projek opgesom het. Ja ekself het al ‘n hele paar keer in ‘n trok gesit met geskenkte voer vir ons diere agter op. Jy ry met duisende rande van ‘n vreemdeling se wins by sy plaashek uit. Dit is ‘n nare gevoel!! Maar daar is mense wat geseënd genoeg is om steeds ruimte te hê om medeboere te help. Al gaan dit self nie te breed nie. Help hulle steeds. Mariette Hugo het met haar pakkies vir die boervroue chaos veroorsaak. Die een dame het sommer begin huil. Ek kry ons boere se vrouens regtig jammer. Hulle is die engele wat elke aand as ons tuiskom maar moed inpraat. Die gesprek probeer lig hou en dan maar weer môre haar uiterste bes doen om die punte bymekaar te hou. Want die diere moet oorleef. Dankie Mariette. Franschoek kan trots wees om iemand soos jy in hulle geledere te kan hê.
Ek dryf die besigheid in Fraserburg eindelik net om een rede!! Ek het net 1 regtig goeie vriend!! En op 11 Desember 2016 word hy gediagnoseer met ‘n gewas op die brein. Na alles soort van tot normaal teruggekeer het, het hy besluit om nie net te sit en wag om dood te gaan nie. Hy wil ‘n verskil maak. En toe begin hy voer soek vir Fraserburg. En KAMBRO het ‘n enorme verskil gemaak. Net soos hierdie skenking!! Soos KAMBRO het julle ‘n nalatenskap by ons kom bou. Iets waarvoor ons vir altyd innig dankbaar sal wees. Baie geluk ook met daardie foto van die kerk. Dit is besonders.
Minste wat ek kon doen Elmar. Dankie vir jul gasvryheid en ons glo en vertrou dinge gaan vir die beter draai. As jy ooit in die Boland kom laat my weet dan kom kuier julle.
Met ‘n ou karoo tjoppie. Beslis. Ek is te dom met die tegnologie. Is daar ‘n manier hoe ek van die foto’s kan kry.
Maar hoe dan nou anders ou maat ?.
In die laaste sin is ‘n skakel wat jou na die gallery van foto’s sal neem. Dit sal ‘n foto program oop maak met al die foto’s. Daar kan jy dan download.
Coooool. Dankie.
Niks so mooi soos mense wat saamstaan om mense in nood te help nie. Wel gedaan aan alma betrokke. Ek is seker daarvan elke bietjie help.
Sjoe Elmar, nou het jy my in trane… Baie dankie v jou mooi woorde….
Laasweek het soos n oogknip verby gevlieg. Ekt vi myself n paarkeer gesê, ‘Lourens, neem in wat nou gebeur, dis iets besonders’.
Dis n onbeskryflike gevoel om saam met daai konvooi Fraserburg te kon inry. Die ‘droogtehulp’ het nie net vir Fraserburg gehelp nie, ons harte is ook aangeraak.
Dankie dat jy met woorde, mens weer kan laat voel of jy agter daai vragmotor se stuurwiel sit…….
Hoe kan ‘n mens nie lief wees vir die karoo en sy mense nie? Besonderse plek en met die Artikel is ‘n besonderse haarrysende geleentheid vasgevang!
Kan maar net bid vir genade en reën! Seën oor almal betrokke!
Baie dankie vir ‘n vreeslike mooi, dog hartseer, blog, Henry. Ek het op Franschhoek grootgeword en skoolgegaan en my hart klop nou tjoklits vir “my” mense van Franschhoek! Só oneindig trots om te kan sê ek het daar grootgeword. Die ouer garde sal my ouers ken – Attie en Gerda Steyn (beide in 2018 net 15 dae uit mekaar oorlede).
Ons boer 35 km noord van Hopetown in die NoordKaap. By ons was dit ook bitter droog. Toe kom die reën in Februarie en ons loof en prys die Heer vir gras wat nou soos die Overberg se koring wuif in die wind. En nou die hartseer …. dit het nét noord van die Oranjerivier gereën. Vanaf Hopetown suidwaarts is dit nog bitter droog. Kan julle dink hoe moet daardie boere se moedeloos voel as hulle vanaf Britstown/Strydenburg/Hopetown Kimberley toe ry? Anders as op Franschhoek reën dit streep-streep in die Karoo en praat ons dikwels van jaloersbuie – daardie “kom-staan-dié-kant-van-die-draad-dan-reën-jy-nie-nat-nie” buie.
Baie baie dankie vir julle omgee, Franschhoek en die Overberg. Dankie dat julle ook aan die vroue gedink het! In die Karoo leer ons as vroue om ons emosies baie diep weg te steek as ons mans stiller en stiller begin word. Huil ons wanneer ons uie skil. Speel ons middelman tussen ons kinders en hulle pa. Probeer verduidelik dat daar nie hierdie jaar geld is vir ‘n sport-toer nie. Dis dán dat ‘n bederfpakkie die dam se sluise laat meegee.
Nogmaals dankie dat julle Christus se liefde en Vader se omgee met mede-gelowige boere gedeel het. Julle is en bly ‘n baie spesiale groep mense!
Groete vanuit die Karoo.
Hi Jacqueline…. Sjoe jy het ook ‘n slag met woorde!!! Dit raak mens se hart… Wens ons kon by almal uitkom in die ander streke ook!!! Wie weet, die Here lei ons dalk eendag na julle toe…
Ek is met Lourens Hugo getroud, Maretha en Gideon Hugo…. En moet sê ons kry nou gereeld reën, maar as ek partykeer vd plaas af ry werk toe, skaars 3km verder teen die berg,Bordeaux, skyn die son by ons en reën dit by die werk…
Sterkte by julle
Franschhoek Groete!!!
Dankie aan Lourens en Mariette dat ons ook n Klein bydrae tot die grootse poging kon maak
Geluk en dankie vir jou artikel, Henry. Dit is vol deernis, warmte, blydskap en hartseer. Ek werk vir SA Jagters en Wildlbewaringsvereniging (SAJWV), en ek kan jou verseker daar is groot waardering vir jou artikel en die melding wat jy gemaak het van die Vereniging en veral jagters se bydrae. Jagters is bewaarders van ons natuurlike hulpbronne – alhoewel baie mense nog sukkel om die verband te verstaan. Hierdie projek wat Overberg-tak van die SAJWV begin het, het soveel mense se verbeelding aangegryp. Jou meelewing en jou storie is beter as enige persverklaring wat ek hieroor sou kon skryf. Dankie!
Ek sal voortaan beslis ou Blog meer gereeld besoek om ook van jou ander buitelugwedervaringe te lees. As jy dalk einde April in Gauteng is, laat my weet en ek kry vir jou ‘n media-kaartjie om Huntex by te woon. Ek glo jy sal dit geniet. http://www.huntex.net/
Hi Magda,
Dankie vir die terugvoer. Dit word opreg waardeer. Hoop jy kom loer gereeld in – sal laat weet as ek weer in JHB is.
Laat dit juig.
Ek is ook n oud Fraserburger.my broer Coert boer daar op ons familieplaas.Ek bid elke dag dat God hul ook sal seen en ook al die ander drooggesteisterde dele.Baie dankie aan boere wat ruim harte het om mede boere te help.jul sal jul seen ontvang
Ek is ook n ou-Fraserburger en ons boer self in die distrik van Steynsburg waar dit ook baie droog was. Let wel WAS. Ons het goeie reens gekry – net genoeg en betyds om ons deur die strawwe winter te kan dra. Ons by op ons kniee vir my grootworddorp en se DANKIE saam met hulle vir julle oop harte! Dankie ook vir elke boervrou se geskenkpakkie. Dis so n mooi gebaar! Dankie vir menseharte wat altyd die swaar raaksien en dit wat hul het, met ander deel. God seen julle!
Ek is ook ‘n oud-Fraserburger. Dit is wonderlik om te sien hoe boere uit verskillende “wêrelde” mekaar ondersteun.
Ek onthou hoe die Vrystaatse boere gedurende die droogte in die laat 70’s begin 80’s vir ons gebaalde mieliereste gestuur het. Soggens 04:00 hoor jy die groot sporrweg lorries aangedreun kom met hulle kenmerkende airbreaks. Dan moes ons opstaan en vir die drywers koffie en toebroodjies neem na die aflaaiplek.
En snags het ons dromme water uitgery na die waterkruppe.
Groete
Christine (Van Renen) Ferreira
Die Wonderpark N G Gemeente in Pretoria sou baie graag by droogtehulp en hulp aan die mense self betrokke wou raak. Afstand is natuurlik ‘n uitdaging, maar met Sy hulp en genade kan dit oorbrug word. Ons sou graag wil weet of daar bestaande hulpskemas is waarby ons kan aanhaak en wat die grootste nood of lekkerste verlange van mense tans is. Dit is byna Kersfees en ons kan dalk probeer om deur middel van kerspakkies iewers ‘n verskil aan iemand se gemoedstoestand te maak al kan ons nie die droogte breek nie. Waar kan ons aanklop of aanhaak om te help?
Hi Attie. Dankie vir die laat weet. Ek sal jou boodskap deur stuur na van die mense wat betrokke was by die reelings van hierdie projek en hulle kan jou dalk in kontak sit met die regte mense. Dankie weereens.
Hallo Attie. Ek is Joanine Gelderblom (Blommie) Skriba by die NG Gemeente Franschhoek. Die Wes-Kaap Sinode se Diaconia been het ‘n projek begin, waar julle as gemeente dalk geld kan inbetaal in die fonds. Inligting onderaan.
Droogte – is daar R3 m. vir 30 gemeentes?
“Diaconia is besig om aan die eerste 13 gemeentes ‘n bydrae van R100 000 elk te maak, maar ons is nog ver van R3 miljoen af. Oorweeg asseblief ‘n spesiale kollekte tydens die maand van Oktober en kom ons staan saam om ons doelwit te bereik,” vra Nioma Venter van Diaconia. Sy spreek haar dank uit vir elke klein individuele bydrae en sê: “Behalwe vir die gemeentes wat wil uitreik en dié wat nood aangemeld het, is daar talle gemeentes wat in elk geval met inisiatiewe besig is wat die wonderlikste getuienisse is t.o.v. meelewing en ondersteuning wat betoon en beleef word. Gemeentes word aangemoedig om die R100 000 én die ander uitreike interkerklik te deel, veral tussen die NG en VG-gemeentes in elke gemeenskap”. Lees hier verder en kontak diaconia@kaapkerk.co.za met navrae.
Verder is Fraserburg aan ons gemeente toegeken. Ons het nou met julle ‘n projek geloots: Borg ‘n skaap vir 3 maande. ‘n Skaap se voer kos R75-00 per maand. Fraserburg het gesê as ons net R50-00 per skaap per maand kan gee, kan dit vir hulle baie help.
Baie van die VLV takke het ook met pakkies vir Karoo vroue begin. Ons gaan bv. dit vir Fraserburg ook doen. Ek sit vir jou die lysie van benodigdhede ook by, dalk kan julle op so ‘n manier ook betrokke raak.
Basiese Paklys
Karoo Vroue
Daar is twee artikels wat in elke boks
moet wees.
Brief
Serp (Oud of nuut. Iets wat na aan jou hart is.
Nou kan jy self besluit met hierdie
idees:
Pep Stores geskenk bewys
Seep, poeier, lyfroom of gesigroom, rooi lipstiffie, waslappie.
Wetwipes, sneesdoekies, naelvyltjie, naelknipper, voet room, , tandepasta, skeermes, sanitêre doekies ens.
Lip Ice, Vicks, Panado of Disprin, pleisters, son room
Tydskrif of enige leesstof. Leef tot Landbou. Blokkiesraaisels ens.
Koffie, tee, suiker of Warm Sjokolade
Vat doeke, Sponsies, Sunlight seep en enige ander skoonmaak middels
Kontak my gerus by 021-876-2431 indien jy enige verdere vrae het.