Scroll Top
19th Ave New York, NY 95822, USA

5 4 3 2 1 BUNGEE!!!

Vrydagmiddag 16h30 sleep 2 vragte bakkies by Vic se plaas (Hartenberg Estate) weg oppad na die hoogste kommersiële Bungee Jump ter wêreld – Bloukrans 216m.

Brill het gereël by ‘n ou tjomma van hom, Gerhard Dyzel, dat ons die naweek op George by hulle kan kuier. Aaai as die knaap maar net geweet het dat mens nie ‘n vrag Willeklonge uitnooi na jou huis toe nie. Die 4 ½ op die pad was hard en lank en toe ons so duskant 23h00 by Gerhard se plekkie intrek was daar al skym op die lippe vir ‘n koue bier.

Die eerste aand op ‘n WK trip is gewoonlik altyd die hardste aand en my maat, was Vrydagaand nie weereens vir jou rof nie. BBk (BoerBok) het hom later in die bad bevind met Parma en ek bo op hom en damn lipstick wat ons erens gekry het. Die knaap het net gek*k van daar af. Het hom later langs Buks (sy bakkie) gekry toe praat hy wyd en suid met Abraham.

Saterdagoggend en die groot Yster skakel my soos ieder gewoonte 07h00 wakker en wonder waar in die land ons nou alweer is. My kop raas en dit voel asof ek deur ‘n baksteen muur is. EISH! Die res van die crew raak stuk vir stuk wakker en na so bietjie sawwelyf is ons weer op die pad. Stop gou by KFC vir iets vir die maag en dan is dit ons en die laaste stuk Bloukrans toe.

So net na 12h00 stop ons langs die groot knaap homself (Bloukrans). Loer gou van die viewpoint hoe ‘n paar ander tiere die brug afvoeter en dan is dit onmiddelik reception toe om die show aan die gang te kry. Van die 12 gaan net 6 spring, die ander 6 gaan wel saam stap en kyk hoe voeter ons van die knaap af.

Marli raak stiller en stiller en ek kan sien my beter helfte vat groot houe. Ek voel ook effens skrikkerig, maar van omdraai is daar nie sprake nie, want ek sal nooit in my hele lewe die einde hoor daarvan nie. Ek sal liewers vrek voor ek uittap (dankie vir daai sê ding BBk). Geld wissel hande en ons kry gou harnasse. Na so paar min se wag kom ons Jump Master en vat ons deur die laaste DO’s en DONT’s.

Die adrenalien pop nou volstoom en dit voel of ek weer op Kilimanjaro is. Het al ‘n paar keer gebungee en gebridge swing van Gouritz, maar dit is maar net 65m, waar hierdie knaap spog met ‘n lelike hoogte van 216m. Die weer speel nie lekker saam nie en alles is nat en die mis reëntjie wil net nie stop nie.

Beide Marli en BBk is nou al dood stil en mens kan sien vir hulle is dit nie meer ‘n grap nie. Die grid platvorm onder die brug wat jou vat tot vanwaar jy gaan spring kan lelike games met jou speel as jy ‘n probleem het vir hoogte. Soutie (Neill) is maller as ‘n vark in Palestinia en die knaap laat ‘n paar van die knape se harte amper laat staan met al sy streke. Uiteindelik kom ons by die centre van die brug en moet sê ek was heel verras toe ek sien hoe professioneel hierdie ouens is. Elk het nou al sy spring nommer gekry – Petra, Marli, Parma, Soutie, Ruan en dan ek laaste. Shit ek hoop nie dit beteken iets nie.

Petra se naam word geroep en die girl toon geen emosie nie. Neem haar plek in en daar gaan sy. Shit dit het nie eers gelyk of sy bang was nie. Paar min later verskyn sy die ander kant van die brug met ‘n helse smile.

Gogga (Marli) se naam word geroep en aai ek kan sien sy vat nou lelik houe. Die Jump Master vat haar deur al die drills en soos sy opstaan om die knaap (Bloukrans) vol in die gevreet vas te kyk loop die trane. Almal skreeu en juig en tussen al die geraas hoor jy net Soutie se woorde.

“FEAR IS TEMPORARY, REGRET IS FOREVER!!”

Tone kril oor die brug en die trane spat soos sy huil. Die Jump Master vra haar die laaste keur of sy reg is en tussen al die gehuilery skud sy JA. Die telling begin en almal skreeu so hard as wat hulle kan en skielik is alles verby. Sy is af en ek voel skoon verlig dat sy dit kon gedoen het. Weet ek gaan op my moer kry as sy weer terug is, maar môre as sy nou weer rustiger is kan sy terug kyk op wat sy werklik ervaar het en hopenlik kan sy eendag sê ek het dit al gedoen.

Ons laaste 4 (Parma, Soutie, Ruan en ek) het nie ‘n keuse nie en vrees mag jy wragtig nie toon nie anders haal die wetters jou by die volgende braai uit. Parma goei daai melkboer liggaam van hom die brug af en ek sweer daai brug het gebewe soos hy ruk, Soutie spring agter uit en haal amper die damn kamera uit terwyl Ruan met geen emosie of asemhaling verandering spring nie.

Uiteindelik word my naam geroep en ek stap nader dat die wetters hulle goed maar op my enkels sit sodat ek tog nou ook maar my gat van die brug kan af kry. Het nie werklik ‘n probleem met hoogtes nie en het al soort van geleer jy moet net jou asemhaling beheer en die oomblik soveel as moontlik probeer absobeer. Ek word aangehelp totdat my tone oor krul en sien doer onder my ‘n stroompie. Hoop net wragtig ek sien hom nie baie nader nie.

Die tyd is hier en van hier is daar nie omdraai nie. Jy hoor hoe word alles om jou geklip soos die jump masters reg maak vir jou sprong. Jou pals gil in die agtergrond en jy weet dit is nou of nooit.

“Bridge ready! Jumper ready! Here we go..5 4 3 2 1 BUNGEEEEEEEEEEEEEE!!”

Ek sak my kniee en spring met alles wat ek het. Vir ‘n paar sekondes is jy horisontaal met die aarde, maar sodra jou kop sak versnel jy soos ‘n weghol trein. Jou ore suis en jy vergeet skoon om asem te haal. Die oomblik is onmenslik en amazing en dit maak sin hoe mense addictive kan raak aan die rush. Jy val so vinnig dat dit lyk of die reën drippels stil staan.

Jy word geruk en gepluk en as jy jou weer kan kry is alles verby en jy is oppad boontoe. Agge nee maar ek wil weer doen.

Terug op die brug word die laaste paar kiekies geneem en dit is weer die elle lange pad terug George toe. By Knysna word daar gou gestop vir so paar koues by Stones. Laat Saterdagmiddag is ons terug in George en die manne laat loop weer met die brannas. Gisteraand se houe is nog vlak en so net na 24h00 tap ek ook maar uit terwyl die ander wetters die dorp aanpak. Shit ek dink ek begin nou maar net te oud raak vir die laat aande.

Sondagoggend is almal vroeg uit die vere en begin daar gou Gerhard se plekkie skoon gemaak. So net na 09h00 en die hele span is weer op die pad. By Gouritz word daar gou geskop sodat Casie (Pieter), De Revman (Steyn) en sy meisie Merlene kan bridge swing.

Soos ek Sondagaand vir my pa gesê het haal ek wraggies my hoed af vir enige iemand wat sy vrese flat-out in die oë kan kyk en nogsteeds die wil en krag het om deur daai barrier te gaan.

FEAR IS TEMPORARY, REGRET IS FOREVER!!

Leave a comment